Stephné Botha
Buite die venster van my kantoor sit ’n inwoner geduldig en wag dat ek hom moet raaksien en innooi. Jaco is doofblind. Hoewel hy ’n bietjie sig het, is dit min, en hy is heeltemal doof. Binne sy stil, skemer wêreld is hy egter gelukkig. Innovation is sy huis en daar is baie wat vir hom lief is!
Jaco is stil en soet, want hy vra nie vrae nie; hy eis nooit aandag nie – hy wag geduldig totdat jy aan hom aandag gee – net soos hy elke dag geduldig buite my venster wag vir ’n kuiertjie voordat ek huis toe gaan.
Naweke gaan loer hy gewoonlik in by die afdelingshoof van die metaalafdeling vir ’n kuiertjie. Daar sit hy stroopsoet, kyk ’n bietjie TV en drink ’n koeldrank voordat hy weer na sy kamer in die tehuis gaan om te hekel of alles in die tehuis te verken.
Hoewel ek en hy al oor die jare ons eie gebaretaal ontwikkel het, is ek altyd hartseer dat hy nie taal geleer het nie. Hy het wel ’n ongelooflike vermoë om te leer, en hoewel hy al iets in die 40 is, verstom hy my keer op keer.
Jaco kan nie met woorde praat nie, maar hy kan vir my baie oordra in die manier hoe hy deur my hare blaas. Vinnige staccato-blasies beteken hy is opgewonde; ’n lang, stadige blaas beteken hy is hartseer, en so is daar vele meer. Hy kan ook sy naam skryf (en myne en pappa s’n), kan tel en verstaan die konsep van datums en syfers. ’n Vriendin van my gee ’n paar jaar gelede vir my ’n “stukkende” foon wat spesiaal vir Jaco gestuur word. ’n Nuwe wêreld gaan vir hom oop! Ons laai “Whatsapp” af, hy “video call” my saans om te kyk of ek in my kantoor is en of ek al tuis is, en hy kan sy familie bel as hy verlang. Al kan hy nie praat nie, kan hy sien waarmee hulle besig is en so in hul lewe deel.
Met sy bietjie sig is hy ook ’n staatmaker in ons metaalafdeling, waar hy werk. Sy afdelingshoof kom gou agter ons jongman is baie slim en kan akkuraat werk, en vir jare het hy in die ingenieurstekene van onderdele wat vervaardig moet word, vir Jaco gewys waar en hoe om dit volgens die plan se spesifikasies te boor. Eendag neem hy te lank na Jaco se sin, en toe hy in die werkskamer kom, is Jaco besig om te boor. Hy skrik hom yskoud – staal is duur, en by die metaalafdeling is dit ons trots om onderdele binne die spertyd by die regte kliënt te kry. Tot sy groot verbasing kyk die afdelingshoof en sien dat Jaco hom al die jare dopgehou het, en met sy byna onverklaarbare begrip die mates perfek uitgewerk en afgemeet het!
Hy verryk ons lewe met sy mooi geaardheid, sy tevredenheid en sy aansteeklike opgewondenheid as hy iets nuuts leer. Wat ’n vreugde en ’n voorreg om Jaco in ons lewe te hê!
Dankie dat u saam met ons glo aan die krag van empatie, geduld en persoonlike ondersteuning. U betrokkenheid bemagtig nie net Jaco en sy vriende hier by Innovation nie – dit gee hulle ook die hoop om hul unieke reis met ’n glimlag te omhels.
. Magda Louw, die gewilde eenvrouvertoning, by die Out of office-geleentheid:
Innovation for the Blind in Worcester se gewilde Out of Office-geleentheid vind plaas op Woensdag, 6 September 2023. Desiré Gardner kom vermaak ons met haar gewilde eenvrouvertoning Magda Louw.
Met topgehalte vermaak en ’n heerlike driegang-maaltyd beloof die geleentheid om ’n baie genotvolle en gesellige oggend te wees.
Kaartjies kos R340 per persoon en kan bespreek word by Ciske by 023 347 2745 of stuur e-pos na reception@innovationfortheblind.org




