Druiwesap kan nou ook gebruik word om sider te maak. Tot dusver was slegs peersap as ’n 25%-aanvulling by appelsap in die vervaardigingsproses toegelaat.

Die wynbedryfliggaam Vinpro het die departement van landbou, grondher­vorming en landelike ontwikkeling se besluit om voorsiening te maak vir die gebruik van druiwesap in die vervaardiging van siders verwelkom.

Volgens die Staatskoerant van 8 Julie maak regulasies ingevolge die Wet op Drankprodukte nou voorsiening vir die gebruik van ander vrugtebasisse, insluitend druiwesap, vir die vervaardiging van ’n sider, mits minstens 75% van die vrugtebasis wat gebruik word van appels afkomstig is.

“Ons is bly oor die besluit, ná ’n uitgebreide 12 maande lange konsultasie met die Wyn- en Spiritusraad,” sê Christo Conradie, Vinpro-bestuurder vir wynbesigheid.

Conradie sê die wysiging is in ooreenstemming met internasionale standaarde en verseker die behoud van die gehalte van Suid-Afrika se siders. Die gebruik van druiwe-konsentraat in vervaardiging het die potensiaal om ’n aansienlike hoeveelheid appelsapkonsentraat wat hoofsaaklik ingevoer word, te vervang.

“Benewens die vermindering van die risiko en kostes verbonde aan die invoer van appelsapkonsentraat kan vervaardigers nou broodnodige ondersteuning aan plaaslike druiweprodusente bied en help om die wynbedryf se hoë surplus – wat hoofsaaklik deur beperkings op wynverkope sedert die begin van die Covid-19-pandemie veroorsaak is – te verminder en sodoende die bedryf te stabiliseer.

“Met die kontrakterings­onderhande­lings vir druiwesapkonsen­traat wat normaalweg gedurende September en Oktober (voor die volgende oes) begin, kom hierdie wysiging op die regte tyd en wil ons produsente en vervaardigers aanmoedig om betrokke te raak en die potensiële voordele van moontlike verkoopsooreen­komste te oorweeg,” sê Conradie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article