Terwyl kospryse die hoogte in skiet, brandstof ’n luukse is en misdaad seëvier, kyk al hoe meer paartjies na die opsie om te emigreer. Standardgesels vandeesweek met een gesin op pad om die groot stap te neem en een gesin wat al jare oorsee woon.
“Die gras is gewis nie groener aan dié kant nie. Die geleenthede is dalk meer, maar elke huis (of land) het sy kruis.”
So sê Stiaan Viljoen (36), ’n ingenieur en boorling van Worcester, wat nou al bykans ’n dekade in Australië woon.
Viljoen en sy vrou, Melissa, het aan die einde van 2012, sowat ses maande ná hul troue, besluit om die groot stap te neem en oorsee te verhuis. Dit het baie uitdagings gehad.
“Ek het my graad in ingenieurswese aan die Noordwes Universiteit voltooi en Melissa in 2010 daar ontmoet. Sy is oorspronklik van die Paarl en het destyds onderwys studeer. Ons is twee jaar later getroud en het albei werk gesoek. Ons het ons CV’s rondgestuur en ek het ’n pos hier in Perth gekry. Almal dink dit is maklik, maar dit was alles behalwe,” verduidelik hy.
Viljoen sê ’n mens moet genoeg geld hê om te kan oorgaan en aan ’n magdom toetse en vereistes voldoen.
“Ons moes eers op ’n toeristevisum oorkom. My vrou moes ook hier werk kry en ons moes ’n Engels-toets aflê. Afgesien daarvan moes ons genoeg geld in ons rekening hê, ons moes mediese toetse laat doen en verblyf kry – ’n duur storie, om die minste te sê.”
Viljoen sê hulle is eers aan die einde van 2014 volgens wet as volwaardige burgers beskou en word eintlik steeds as buitelanders geag.
“Ja, die geleenthede lê oorsee. Dit is in ’n mate ook veiliger, maar alles hier is duur. Die pandemie en die oorlog het ’n impak oor die hele wêreld. Almal sukkel.”
Nog ’n gesin van Worcester het egter besluit om ook nou dié pad te stap.
“Dit was nie ’n maklike keuse nie. Jy los alles agter – jou lewe, jou familie, jou vriende – basies alles wat jy ken.”
Só verduidelik Louis Bothma (31) van Worcester.
Hy en sy vrou, Shandré, en hul sesjarige dogtertjie, Zioné, sal teen einde September hul nuwe lewe in Ierland begin.
“Ons het baie teenstand gehad. Mense dink jy hardloop weg of jy soek ’n maklike uitweg. Dit is nie so nie. Dis glad nie maklik nie, maar dit is waar ons ’n geleentheid kon kry. Mense kritiseer ons baie en ander sê ons moet die geleentheid vat en nooit weer terugkom nie, maar Suid-Afrika sal altyd ons huis wees.”
Bothma sê sy vrou het familie aan daardie kant en hulle kan deur middel van ’n borgprogram oorgaan.
“My vrou het ’n kwalifikasie in tegniese tekeninge. Sy gaan daar as ’n argitek werk. Ek het reeds ’n paar onderhoude gehad en wag vir terugvoer. Ons trek is geskeduleer vir 12 September en ons vlieg die 17de,” voeg hy by.
Hy sê ook hoewel hulle op ’n familievisum oorgaan, is die keuringsproses ook maar relatief streng en die kostes baie hoog.
Albei gesinne praat oor veiligheid en beter werksgeleenthede, maar gee toe die lewe is oral duur. Hulle sê ook hierdie besluit hou talle voordele, maar ook nadele in, maar in dieselfde asem is en bly hulle lief vir hul geboorteland.
“Hierdie sal altyd ons huis wees. Dalk is dit tydelik. Wie weet





