Worcester se inwoners is Sondag 22 Oktober in die stadsaal vermaak met sang en musiek uit die boonste rakke toe die Emmanuel Congregational kerk, in samewerking met die drie VGK-gemeentes in die dorp, ’n sang- en musiekfees van uitstaande gehalte gelewer het.

Om dit nog meer spesiaal te maak, het twee soliste, Nathalie Arendse en Lenadia Crotz (albei van die Emmanuel Congregational kerk), aan die fees deelgeneem. Ook was die amperse dokter Chadwin Phillips meesterlik agter die klavier as begeleier, terwyl die bekende Crusaders- en The Fleet-Kersfeeskore met hul instrumentale bydraes die dag verder opgehelder het.

Die gekombineerde kore met hul onderskeie koorleiers het verder kleur aan die prestige- geleentheid verleen deur verskeie van die sang-items self te dirigeer. Dit was veral die weergawe van “Give me more of thy spirit” onder leiding van die koorleier David Fixter van VGK Worcester-Suid, “Remember me” onder leiding van Rhona Ruiters, koorleier van VGK Worcester-Oos, asook “Who is this tiny child” onder leiding van Charlie Springveldt, koorleier van Emmanuel Congregational kerk se koor, wat die gehoor in vervoering gehad het.

Ook was Nathalie Arendse se weergawe van “Panis Angelicus” en Lanadia Crotz se “You’ll never walk alone” beslis van die gehoor se gunstelinge. Chadwin Phillips se weergawe van “The Goodness of God” op klavier en die instrumentale weergawe van “My Prayer” deur die Kersfeeskoor, het meesterlik bygedra tot die puik georganiseerde middag.

As toegif is die besonder geskiedkundige middag afgesluit met “Jesus is great and wonderful”, met Charlie Springveldt as dirigent en onder begeleiding van die twee Kersfeeskore Crusaders en The Fleet, terwyl die gehoor ná elke vers die koorgedeelte spontaan saamgesing het. Na afloop van dié genotvolle sangmiddag was almal dit eens dit moet beslis ’n jaarlikse geleentheid word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article