Inwoners van Zwelethemba het die Robertson-pad Woensdagoggend (7 Junie) met brandende bande versper.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, was die inwoners ontsteld oor kragverbindings wat die vorige dag ontkoppel is.
“Die munisipaliteit en wetstoepassers het Dinsdag onwettige kragverbindings in Zwelethemba verwyder.
Die inwoners wat hierdeur geraak is, het hul misnoeë gister betoon deur die Robertson-pad te versper en daar te betoog deur motorbande aan die brand te steek,” verduidelik Jacobs.
Toe Standard om 10:23 met die polisie gepraat het, was die betogers uit die pad en het hulle op die treinspoor en langs die pad gestaan.
“Die polisiebeamptes op die toneel het toe op die brandweer gewag om die pad skoon te maak en die brande te blus.” ’n Woordvoerder van die munisipaliteit het aan Standard bevestig ’n span het die vorige dag optrede van stapel gestuur, wat verband hou met die verwydering van onwettige elektriese verbindings.
“Dit veroorsaak ’n massiewe probleem. Dit hou nie net ’n lewensgevaarlike bedreiging in vir mense wat sulke onwettige elektriese verbindings vestig nie, maar verhoog ook die risiko van struktuurbrande weens kortsluitings. Dit veroorsaak ook geweldige skade aan infrastruktuur, wat dan weer bydra tot gereelde foute en ook ’n geweldige finansiële verlies tot gevolg het,” het die woordvoerder gesê.
Hy sê die munisipaliteit sou later Woensdag ’n volledige mediaverklaring publiseer.


