Inwoners van Villiersdorp het in ’n vreedsame optog na die plaaslike polisiekantoor gestap om hul besware bekend te maak.Foto: Villiersdorp Civil Action Movement/ Facebook



Inwoners van Villiersdorp is keelvol vir misdaad. Dit was die boodskap onlangs toe ’n groep onder leiding van ’n plaaslike burgerregteorgani- sasie in die dorp na die plaaslike polisiekantoor opgeruk het om die toename in misdaad te pak.

Weldon Wells, voorsitter van dié organisasie, het gesê ’n memorandum is aan die stasiebevelvoerder oorhandig, waarin
nege moorde van die begin van die jaar asook drie verkragtings in die tydperk genoem word.

Wells het gesê die Villiersdorp-polisie het ’n groot uitdaging omdat slegs vier speurders daar werk, wat

volgens hom te min is vir die aantal inwoners, wat tans die 60 000-kerf oorskry.

Kapt. Ryan Arends, die waarnemende stasiebevelvoerder van die Villiersdorp-polisie, het egter gesê ses speurders werk by die polisiekantoor.

Wells het gesê inwoners is ook bekommerd oor die toename van boende-howe wat plaasvind en waarskynlik verantwoordelik is vir die huidige vlaag moorde in en om Villiersdorp.

Arends het beklemtoon boendoe-howe is aan die toeneem. Hy het gesê boendoe-howe is ’n aksie wat toegepas word wanneer ’n groep mense eie reg gebruik teen misdaadverdagtes in plaas daarvan dat die klagtes by die polisie aangemeld word.

Hierdie gedrag lei dikwels tot die moord van die verdagte.
Die vermoorde se lyk word dan in ’n afgeleë veld gelos, waar voetgangers of motoriste dit gewaar en die polisie in kennis stel, wat dan ’n moordsaak moet open.

Arends het verduidelik dié groep mense wat die boendehowe beheer, is klaarblyklik van die Sotho-kultuur wat in informele nedersettings in en om Villiersdorp bly.

Volgens hom hou vier van die nege moorde met boende-howe verband, terwyl twee weens taxi-geweld is en die ander drie moorde as gevolg van alkoholmisbruik is.

Arends het verduidelik tot dusver is net een inhegtenisneming in verband met hierdie moorde gemaak.

Die memorandum wat by die polisie ingedien is, sal nou deur die polisie se distrikskantoor in Hermanus ondersoek word.

Volgens Wells is die doel van die Civil Action Movement om die Theewaterskloof-munisipaliteit en plaaslike polisiekantoor verantwoordelik te hou vir goeie dienslewering deur projekte aktief te dryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article