Nog ’n inwoner van Russelskema, waar chaos twee Sondae terug geheers het, praat uit.

Standard
& Gazette het vroeër met ander inwoners in die buurt gepraat. Hulle het beweer ’n bendelid het die gebied met ’n vuurwapen binnegegaan en is deur ’n speurdervoertuig begelei. Hulle het ook beweer hy het dié wapen by sy neef gesteel en is daaroor aangerand en in die gesig gesteek.

Volgens die inwoner het die man glad nie met ’n skietding in die buurt aangekom nie.

“Hy het na sy ma toe gegaan omdat hy gewond was. Hy is vroeër die oggend met ’n gebreekte bierbottel in die wang gesteek en het by sy ma na hulp gaan soek. Hy het ’n handdoek om sy kop gehad, want die wond het gebloei. Hy was glad nie in ’n onderonsie met sy nefie nie en hy het nie ’n gun gesteel nie.”

Sy verduidelik verder die Russelskema-inwoner het haar seun by die huis ingelaat, vir hom iets gegee om te eet en hy het ’n bietjie geslaap.

“Sy ma het toe geloop en met haar terugkoms het sy besluit om die polisie te bel, want toe sit lede van die mededingende bende en hou haar huis dop.

“Dinge het van daar af vinnig begin gebeur. Dit het gelyk asof daai vrou toe die teiken was.”

Mense beweer ook die vrou het haar kleindogter en haar vier maande oue baba uit die huis na veiligheid gestuur, maar het die wapen in ’n babasak uitgedra.

“Eerstens was daar nie ’n vuurwapen nie en sy het nie eens ’n babasak by haar gehad nie. Hy het net die okapi by hom gehad.”

Inwoners beweer ook nadat die man deur die polisie uit Russelskema na veiligheid geneem is, het hy later die aand daar kom skiet.

Die inwoner sê sy het skote hoor klap, maar niks gesien nie.

“Ek het iets gehoor, maar ek kan nie bevestig of dit wel skote was en of dit wel hy was wat daar geskiet het nie. Hy het ook nie later sy ma gebel om die wapen te gaan kry nie.”

Verder verduidelik die inwoner nog ’n voorval het net voor 21:00 daardie Sondag plaasgevind.

“Een van die ander bendelede het ’n mengsel van lampolie en petrol op daai vrou se voordeur gaan gooi. Hy het toe vullis voor die deur aan die brand gesteek – asof hy gedink het die deur sal in vlamme uitbars.

“Die vrou se kleinkind het egter gely weens die klomp rook wat dit veroorsaak het en moes Maandagoggend hospitaal toe gaan om suurstof te ontvang.”

Die man is glo ook nie in hegtenis geneem soos voorheen beweer is nie.

“Sy ma het hom nog in die week gesien. Dit blyk hy is spyt dat hy huis toe gegaan het vir hulp, maar watter kind soek nie na sy ouers as hy beseer is nie?”

AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het bevestig die man is nie in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article