Die Breedevallei-munisipaliteit het in beginsel ’n besluit geneem oor die toekomstige benutting van Kleinplasie se Ou Landbouskou-gedeelte.

Hierdie geskiedkundige perseel se huidige huurooreenkoms kom op 31 Julie 2025 tot ’n einde en die raad is nou besig om die toekoms daarvan te bepaal. Dié raadsbesluit volg nadat die kommentaar en aanbevelings van verskeie munisipale departemente ingewin is.

Dit sluit die finansiële afdeling se fokus op die kultuurhistoriese waarde van die terrein in, asook vereistes rakende die beskerming van bestaande munisipale dienste deur die ingenieursafdeling.

Die munisipale beplanningsafdeling het spesifieke gebruiksvoorwaardes gestel wat gedeeltelike ligte bedrywe, gemengde kommersiële gebruik, toeristegeriewe en sport- en ontspanningsdoeleindes insluit.

Die perseel sal by wyse van ’n mededingende proses vir moontlike huur of verkoop in die ope mark geadverteer word.

Hierna sal ’n proses van stapel gestuur word om die publiek se insette oor die voorgestelde huur of verkoop van die perseel te verkry.

Alle openbare kommentaar sal aan die munisipale raad vir oorweging voorgelê word.

Potensiële ontwikkelaars sal genooi word om voorstelle in te dien oor die mees geskikte toekomstige ontwikkeling van dié bekende perseel in Worcester.

Die koper of huurder sal verantwoordelik wees vir alle verwante kostes, insluitend hersonering, oordragkostes en die aanlê van munisipale dienste.


Die besluit kan in vier hoofpunte
opgesom word:

. ’n Beginselbesluit oor die huur of vervreemding van Kleinplasie.. Die implementering van ’n openbaredeelnameproses.. Die insameling en oorweging van openbare kommentaar deur die raad.. Die aanvaarding van ontwikkelingsvoorstelle vir die perseel.

Die raadslid Julian Kritzinger het gesê hierdie besluit is ’n deurslaggewende stap om die potensiaal van Kleinplasie te ontsluit.

“Dit is geleë op ’n prominente ligging langs een van die Breedevallei se hoofroetes en kan ’n beduidende rol in die versterking van die plaaslike ekonomie vervul.”

Inwoners en belanghebbendes word aangemoedig om aan die openbaredeelnameproses deel te neem om hul stemme oor hierdie belangrike saak te laat hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article