’n Inwoner van Worcester is onlangs R8 000 kwyt nadat hy op sosiale media in ’n vermeende beleggingslenter ingedoen is.
Paul Strauss (36), ’n plaasvoorman van Worcester, is hewig ontsteld nadat hy ingeloop is deur iemand wat hom as ’n beleggingsadviseur vir Forex op Instagram voorgedoen het.
Forex is die buitelandse valutamark en is ’n globale gedesentraliseerde of oor-die-toonbank mark vir die verhandeling van geldeenhede. Hierdie mark bepaal buitelandse wisselkoerse vir elke geldeenheid. Dit sluit alle aspekte van die koop, verkoop en uitruil van geldeenhede teen huidige of vasgestelde pryse in. Hoewel Forex as sodanig wettig is, is daar diegene wat hierdie stelsel uitbuit.
Die afgelope paar jaar het talle slenters die ronde begin doen en is talle mense hul geld kwyt.
“Ek het geen kennis van Forex nie, maar is in ’n Instagram-boodskap genader. Die persoon se naam was Jonathan Matthews en hy het bykans 10 000 volgelinge gehad. Hy het gesê hy wil my help en as ek $450 (sowat R8 000) belê, hy my kan help om dit om te skakel tot sowat R50 000. Ek het gedink hy wou help. Ek het gedink ons skuld sal dan iets van die verlede wees,” vertel Strauss aan Standard.
Strauss het toe die persoon op Instagram se raad gevolg en die geld deur PayPal oorbetaal nadat hy ’n paar vorms via e-pos moes invul en aanstuur.
“Dit het regtig betroubaar gelyk. Soveel mense op Instagram het onder sy inskrywings gesê hoe dankbaar hulle vir hom was en hoe hy hulle gehelp het.”
’n Paar dae het verbygegaan en Strauss wou opvolg oor die stand van sake.
“Ek het die geld op 12 Mei oorbetaal en op 16 Mei het ek hom gevra wat aangaan en wanneer ek terugvoer kan verwag. Hy het die boodskap gelees. Ek het hom die volgende dag weer gevra en toe opgemerk dat ek geblok is.
“Ek het begin stres en deur my vrou se Instagram na sy profiel gegaan – dit was toe verwyder,” vertel Strauss verder.
Hy het dadelik e-posse gestuur na die adres waarheen hy die dokumentasie moes stuur, maar het geen terugvoer van die adres ontvang nie.
“Ek wou ’n saak maak by die polisie, maar hoe spoor mens iemand op as die profiel net verdwyn het? Hoe maak ’n mens dan? Ek het R8 000 netso verloor. Dit laat ’n mens stukkend.”
Hierdie soort slenters maak nou gereeld ’n verskyning en selfs Instagram waarsku nou teen hierdie misdryf. Oorsee is talle mense al só gevang en plaaslik word baie mense se profiele ook gesteel om hierdie misdrywe te pleeg.
Kenners meen dat hierdie soort slenters op enige sosialemediaplatform voorkom.
Die polisie sê egter enigeen is welkom om ’n saak te open, maar moet waaksaam wees om eerder nie aan enige persoon geld oor te betaal nie.
“Ek vertel my storie. Dis seer en ek kry skaam dat ek so gevang is, maar ek moet net ander waarsku,” meen Strauss.
Hy verduidelik hoe moeilik dit was om vir die afgelope paar maande kop bo water te hou.
“Kos, klere en skoolfonds was van die goed wat ons moes los vir ’n rukkie. Ons moes ’n ander plan maak. Moenie geld aan enigeen oorbetaal nie en moet niemand vertrou nie.”





