Uit pure liefde vir haar tuisdorp het Ellenie Eloff ’n liedjie oor Worcester geskryf, opgeneem, en selfs ook ’n musiekvideo daarvan gemaak.
Eloff, of liewer Elle E soos sy op die verhoog en in musiekkringe bekend staan, het haarself geleer musiek maak.
“Toe ek nog baie jonk was, het ek ’n kitaar in my ma se kas ontdek. Ek het heeltyd daarmee gespeel, al het ek nie geweet presies hoe dit werk nie. Eers jare nadat ek uit die skool is, het ek weer vir my ’n kitaar gekoop en begin liedjies skryf,” verduidelik sy.
Dié Worcester Gim-alumnus, wat op ’n plaas in Brandwacht grootgeword het, het vir ’n dekade in Londen gewoon en in die modebedryf gewerk. Dit was in daai tyd en haar gereelde reis dat sy begin skryf het – sommer ook in hotelkamers.
“Ek is ’n self-taught multi instrumentalist. Ek speel kitaar, baskitaar, klawerbord en die tromme op my recordings.”
Haar liedjie, “Worcesteriet”, herinner dié wat daarop ingestel is aan Karen Zoid se “Afrikaners is plesierig”. ’n Sweempie roekelose verlating, nostalgie oor haar jonger jare en baie Worcester-trots word aan die luisteraar oorgedra. Al woon sy tans in die Kaap, het haar liefde en herinneringe van Worcester nie in die minste minder geraak nie.
“Ek het die liedjie oor Worcester geskryf want ek love die mense en die kultuur. Die musiekvideo is geskiet op die plaas waar ek grootgeword het. Ek wil in die toekoms graag meer reis.”
Vir nou kan aanhangers na haar optredes saam met F***f Polisiekar, Jack Parow en Zaan Zonnekus gaan kyk. Vir meer inligting hieroor, besoek howler.co.za. Elle E se musiekvideo kan op Youtube of via haar Facebook-blad, Elle E, gekyk word.





