Die Montagu-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap oor ’n voorval wat vroeër vandeesmaand gebeur het.

“Enigiemand wat inligting het oor ’n voorval wat op 5 Januarie om 00:25 in die Koo gebeur het, kan na vore kom en die inligting met die ondersoekbeampte deel,” het AO Suria Meyer, ’n woordvoerder van die Montagu-polisie, gesê.

Die Montagu-polisie het op dié datum inligting oor ’n ongeluk ontvang waar die betrokke voertuig van die toneel af weggejaag het.

“Na bewering is ’n voetganger raakgery en die voertuig het van die toneel af weggery sonder dat dit by die polisie aangemeld is,” verduidelik Meyer.

’n Verbyganger het die slagoffer van die ongeluk langs die pad kry lê en die nooddienste ontbied.

“Die 36-jarige man het na bewering daardie aand by vriende gekuier en is omstreeks 22:00 van hulle af weg. Later het ’n man, wat onderweg was na sy vriendin, die 36-jarige man langs die pad gevind nadat hy ’n harde slag gehoor het. ’n Ambulans is ontbied en die man is na die hospitaal geneem.

Die ondersoekbeampte is egter Maandag 15 Januarie in kennis gestel dat die man aan sy beserings beswyk het,” verduidelik sy. . Enigeen met inligting oor die betrokke voertuig of die bestuurder van die voertuig kan dit met die ondersoek­beampte, speur-adjudant-offisier F. Conradie, deel. Die Montagu-polisie kan by 023 614 8301 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article