Worcester pronk met 2023 se Mej. Junior Tiener Suid-Afrika nadat Inge van der Merwe (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy, op 1 April in Pretoria as die wenner aangewys is.
Hierdie prestasie maak dit vir Inge moontlik om in Turkye aan die internasionale junior modelkompetisie te gaan deelneem.
Buiten die Mej. Junior Tiener SA-titel het Inge ook die titels van Mej. Junior Tiener Suid-Afrika Fotogenies, Mej. Junior Opritmodel en Beste van die beste gewen.
Sy sê haar modelafrigter het haar in 2018 aangemoedig om vir die Pageants, SA se junior modelkompetisie, in te skryf – ’n besluit waarvan sy die vrugte gepluk het nadat sy in 2018 as eerste prinses aangewys is en in 2019 en 2023 die titel van Mej. Junior Tiener Suid-Afrika ontvang het.
Sy verteenwoordig Suid-Afrika in Mei in ’n kompetisie in Turkye.





