Worcesteriete is bekommerd oor ’n vlaag inbrake die afgelope ruk en diefstal wat tans hoogty in die streek vier.

Op sosiale media sien ’n mens amper weekliks inskrywings van plaaslike inwoners wat ander inlig en waarsku oor inbrake en verskeie vorme van diefstal in veral Worcester.

Kendrick Williams, ’n inwoner van Roodewal, vertel aan Standard dat hy in April verlede jaar ’n vreemde man in sy huis betrap het wat besig was om artikels in ’n rugsak te pak. Die polisie het die man in hegtenis geneem, maar hy is later weer vrygelaat.

“Dieselfde man het verlede week my suster se foon uit haar sak gegryp toe sy van die skool af huis toe stap en net weggehardloop. Die mense hier ken hom al, maar as selfs inhegtenisneming nie meer werk of mense skrikmaak nie, wat gaan aan?” vra Williams.

Hy vertel dat hulle ’n saak geopen het en nou wag op antwoorde.

Marina de Klerk wat in die middedorp woon, vertel dat sy sowat twee weke gelede tuisgekom het ná werk en gesien het haar woonstel se skuifdeur staan wawyd oop.

“Ek het geweet dit was nie ek wat dit oopgelos het nie. Ek is baie erg oor sekuriteit. Ek het ingegaan en my televisie, ’n radio, ’n tablet en kos is uit die yskas gesteel. My hart het tot in my skoene gesak.”

De Klerk vertel dat sy in 2021 geskei is en sedertdien op haar eie woon. Sy kyk nou na alternatiewe verblyfopsies.

Sy het nie ’n saak aangemeld nie.

“Ek het nie versekering op die goed nie. My mening is dat dit al rede is om ’n saak oop te maak. Daardie goed is lankal weg of verkoop. Kry ’n mens dit terug, is dit tien teen een beskadig,” sê sy.

AO Vathiswa Jacobs van Worcester-polisie vra dat inwoners wat slagoffers van diefstal of roof is dadelik ’n saak moet oopmaak.

Sy voeg by dat die plaaslike polisie gereed is om die gemeenskap by te staan.

’n Inwoner van Paglande, Lida Cronje, het op Dinsdag (14 Maart) ’n klop aan die deur gehoor. Sy het haar tuiskantoor se deur agter haar toegetrek en gaan ondersoek instel.

“Dit was vreemd, want ek het nie die hek vir enigiemand oopgemaak nie. My man werk in die buiteland en my kinders was by die skool. Ek het gegaan, maar niemand gesien nie. Ek het iets agter in die erf gehoor en omgestap. Ek het later gedink dit is my verbeelding.”

Sy het toe ’n oproep ontvang van ’n kollega en in haar agtertuin gesit en die oproep het sowat sewe minute geduur. Toe sy weer na binne gaan om te werk, het sy opgemerk haar kantoordeur staan wawyd oop.

“Ek het geskrik en gedink iemand is dalk daar binne. Ek het versigtig ingestap en gesien my drukker, my rekenaar en ’n horlosie met sentimentele waarde wat op my lessenaar gestaan het, is net skoonveld. Ek het dadelik besef dit is gesteel,” voeg sy by.

Cronje het deur die huis geloop en gekyk of sy iets kon gewaar. Die skuldige(s) was egter reeds weg.

“Dit moet iemand wees wat ons al lank dophou en/of die huis baie goed ken. Hulle het presies geweet wat hulle wil vat, want niks anders in die huis is weg nie.”

Sy vertel sy is verpletter ná die diefstal en dit voel of sy magteloos is.

“Hoe verduidelik ’n mens dit aan jou kinders? Hoe ontstel jy nie jou man wat duisend kilometers ver is nie?”

Sy het die saak aangemeld en dit word tans ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article