’n Onwettige immigrant, Lovemore Doriyo (18), het verlede week weer in die streekshof in die Paarl op ’n klagte van poging tot moord verskyn.
Hy het volgens die klagstaat ’n joernalis, Reint Grobler, in Mei 2022 tien keer met ’n mes gesteek nadat Grobler hom op heterdaad betrap het toe hy ’n bakkie wou steel.
Grobler het sy selfoon by hom gehad en sy vrou, Karien, gebel wat die plaaswag en polisie gebel het. Die beskuldigde is op die buurplaas Whitebrigdge in hegtenis geneem.
Grobler is na Mediclinic Worcester gehaas vir ’n noodoperasie.
Reint en Karien is die eienaars van ’n gasteplaas buite Wolseley.
Kort ná die voorval het Doriyo in die hof in Wolseley verskyn en is op borgtog vrygelaat.
Hy het nie op die voorgeskrewe datum weer in die hof verskyn nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.
Hy is later in Malmesbury op aanklag van verkragting van ’n agtjarige kind in hegtenis geneem.
Dit het eers gevolg nadat die gemeenskap hom gevang en tot in die hospitaal geslaan het.
Die poging tot moord-saak in Wolseley en die verkragtingsaak in Malmesbury is saam gevoeg en oorgeplaas na die Paarl se streekshof vir verhoor.
Die verhoor is tot 29 Augustus uitgestel.
Die beskuldige bly in aanhouding.



