Sollie se Hoek afgeneem in 2010, voordat dit afgebrand het.Foto’s: Kritzinger-argief


“Sollie se Hoek”, ’n ikoniese landmerk in Rawsonville, is mooi opgeknap en reg om ’n tradisie voort te sit.

Min plekke in Rawsonville is ’n ware landmerk soos “Sollie se Hoek”, op die hoek van Brand- en Van Riebeeckstraat, skuins oorkant die NG kerk Goudini.

Dit is bekend dat hierdie ikoniese onderneming al langer as 90 jaar onder verskillende eienaars handel dryf.

Op sy dag moes hierdie nogal ’n klein goudmyntjie vanweë sy ligging gewees het – as ’n mens in gedagte hou dat dit die heel eerste winkel is wat ’n mens kry as jy met die ou N1 noordwaarts deur Du Toitskloofpas gekom het en dat dit ook die laaste winkel was voordat jy die Breedevallei verlaat het om met die ou N1 deur Du Toitskloofpas te gaan.

Nadat ’n onlangse brand, wat hierdie gebou ’n paar maande gelede heeltemal verwoes het, gedreig het om hierdie ikoniese gebou dalk vir altyd te begrawe, het die Breedevallei-munisipaliteit se boubeheerafdeling toegesien dat die ikoniese gebou se fasade behoue bly en dat die eienaar die gebou min of meer tot sy eertydse glorie herstel.

“Sollie se Hoek” het in die jare dertig al ontstaan, maar van die vroegste inligting oor hierdie onderneming lui ’n ou advertensie van bykans 70 jaar gelede – van 1958 – waarin die winkel as “Sanders en Rabinowitz” bekendstaan.

Die baanbreker van hierdie winkel was Sollie Rabinowitz en hy was met ’n nooi Sanders getroud.

Dit is moeilik om met sekerheid te bepaal wat presies hul volle name en herkoms was, aangesien daar geen sulke grafte in Rawsonville of in Worcester se Joodse begraafplaas voorkom nie. In die Worcesterse Joodse begraafplaas is daar egter ’n graf van ene Louis Sanders (1878 – 1921) en ’n mens kan moontlik aanvaar dat dit Mevrou Rabinowitz se pa kon wees.

Dit is dalk moontlik dat die winkel eers deur Sanders begin is, en dat sy skoonseun, Solie Rabinowitz, daarna by hom aangesluit het.

Indien dit wel so sou wees, is die “Sollie se Hoek”-onderneming nog ouer as 1930 toe Sollie Rabinowitz daar begin het.

Wat wel bekend is, is dat Sollie Rabinowitz en sy vrou nie kinders gehad het nie. Nog ’n Joodse man het by die winkel gewerk en sy naam was Morris Sanders. Hy was ’n broer van Sollie se vrou.

Meer as 90% van Suid-Afrika se Joodse bevolking is Litvaks uit Lithuanië, dus is dit ’n groot moontlikheid dat Rabinowitz en Sanders self Litvaks kon gewees het.

Sanders en Rabinowitz was baie bekend onder Rawsonville se boeregemeenskap en hulle het Sollie deur die jare gedra. Hy het vir die boere produkte op rekening gegee en hulle kon hom terugbetaal wanneer hulle geld vir hul produkte gekry het.

Hy was bekend daarvoor dat hy geen rente van sy skuldenaars gevra het nie.

Die winkel was ’n algemene handelaar en dus het hy van alles waaraan jy kan dink, verkoop – van fietsonderdele, horlosies, perdesaals, tooms, yster, vroue- en mansklere tot spykers.

Daar was selfs van bokkoms tot voer vir hoenders en ander diere in die streepsakke wat uit die agterste store, agter die winkel, verkoop is.

Die diere wat geslag sou word, moes volgens oorlewering eers deur die plaaslike rabbi in Worcester geseën word. Sollie moes dan al sy diere op ’n Vrydagmiddag Worcester toe neem sodat die rabbi dit eers kon seën voordat hulle geslag kon word. Die diere is dan eers na die destydse Joodse Sinagoge by Durbanstraat 72 (hedendaagse Sassa-kantoor) geneem voordat hulle geslag kon word.

Sollie het later ’n vragmotor gekoop en iemand aangestel om dit te bestuur om voorraad vir boere en werkers na plase aan te ry.

Baie van die produkte wat die winkel verkoop het, soos botter, brood, groente, kaas, vrugte en eiers het ook van die omliggende plase gekom. Baie van hierdie produkte het ook nog deur ruilhandel tussen die winkel en die boere hande verwissel.

Sollie Rabinowitz het tot omstreeks 1958 sake as Sanders en Rabinowitz gedoen.

Later is die gebou deur die Nobo-koöperasie gebruik en dit is ook as tuisnywerheid deur plaaslike vroue ingespan.

Die hele historiese “Sollie se Hoek”-winkel het ’n paar maaande ná die covid-inperking afgebrand. Gelukkig het die ou historiese buitegebou en skure ongeskonde behoue gebly.

Aangesien die gebou tot op die grond afgebrand het, het die murasies weens hul strukturele onstandvastigheid hul erfeniswaarde verloor.

Gelukkig, met die ingryping van die Breedevallei-munisipaliteit se boubeheerafdeling, kon die historiese fasade van hierdie ikoniese onderneming gered word.

Die bouwerk is tans 95% voltooi en al wat nou nog net moet gebeur, is dat die brandweer en die bouheerafdeling hul inspeksies moet kom doen alvorens die okkupasiesertifikaat uitgereik kan word.

Die “Nuwe Sollie se Hoek”, wat in die plek van die oue verrys, sal sonder die stoepe 551 m² beslaan, en 611 m² met die stoepe.

Volgens wat verstaan word, gaan die Oosterse winkel wat tans by Greystraat 10 (hoek van Grey- en Van Riebeeckstraat) in Rawsonville is, ’n tweede tak op die historiese “Sollie se Hoek”-perseel open.

Sodoende breek ’n nuwe tydperk vir die historiese Sollie se Hoek aan – op ’n hoek wat vir altyd in die volksmond Sollie Rabinowitz se nagedagtenis sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article