Hy het Saterdag (2 November) vir die eerste keer ’n rugbywedstryd van sy 11-jarige seun bygewoon. Boonop het hy op pad na die wedstryd uit die minibus-taxi geklim om vir sy vrou ’n wit roos te pluk.
Vandag is Rolan Grove (40) van Van Zyllaan in Worcester se familie en breë vriendekring in rou gedompel nadat hy die volgende dag (Sondag, 3 November) in ’n motorongeluk op die Robertson-pad gesterf het.
Grove was ten tyde van sy dood ’n algemene werker by Worcester Enjinsentrum. Hy en sy vrou, Nicolene (32), sou aanstaande jaar op 14 Februarie hul tiende huweliksherdenking vier.
’n Hartseer Nicolene sê aan Standard Breederivier Gazette dat haar man op die dag van die noodlottige ongeluk ’n vriend van hom, wat in ’n ander motor gery het, tot by Nuy vergesel het.
Sy neef Atwill Grove en ’n vriend, Eugene Lawrence, het saam in een voertuig gery.
Nicolene sê net ná die verkeersirkel naby Zwelethema het Rolan plek gemaak vir ’n ander voertuig wat agter hom gery het om verby te kom.
Volgens haar het Rolan se voertuig op die gruis langs die pad beland, waarna hy beheer verloor en die voertuig gerol het. Nicolene sê haar man is deur sy motor se sondak by die voertuig uitgeslinger.
Sy sê soos sy verstaan, is hy op slag dood. Volgens haar was Lawrence in die hospitaal vir steke in sy rug. Atwill is ongedeerd.
“Toe ek by die huis die nuus kry dat Rolan dood is, het ek die heeltyd kalm gebly, ter wille van ons dogter, Zariah (4). Sy was baie erg oor haar pa.”
Volgens Nicolene het hul seun, Tyreeq (11), saam met familie na die ongelukstoneel gaan kyk. Sy sê hy was histeries.
Nicolene sê Tyreeq het leerprobleme op skool gehad. Vanjaar hy het homself bewys toe hy ’n diploma vir verdienstelikheid vir vyf skoolvakke ontvang het.
Volgens Nicolene was Rolan bevoorreg om sy seun se eerste diplomaplegtigheid op 30 Oktober by te woon.
Nicolene sê Tyreeq is ook vir die 7’s-rugbyspan gekies.
Volgens haar het almal die afgelope Saterdag – ’n dag voor die ongeluk – in ’n minibus-taxi Bredasdorp toe gegaan om Tyreeq op die rugbyveld in aksie te sien.
Nicolene sê Saterdag was dit die eerste keer dat Rolan sy seun op die veld in aksie gesien het. Volgens haar kon hy weens werksverpligtinge nie Tyreeq se vorige rugbywedstryde bywoon nie.
Volgens haar het Rolan die heeltyd gespog oor ’n tackle van sy seun op die veld.
“Op pad Bredasdorp toe, toe stop ons langs die pad. Rolan het uit die taxi geklim, vir my ’n wit roos langs die pad gepluk en vir my begin sing.
“Hy het ook die heeltyd in die taxi foto’s geneem en videos gemaak. As ek nou daaraan terugdink, het hy eintlik vir my good bye gesê.”
Rolan word Saterdag 16 November ter ruste gelê. Meer besonderhede oor die begrafnis sal later bekend gemaak word.





