’n Bejaarde het op Oukersaand gesterf toe ’n brand by Huis PJ Strauss in Ceres ontstaan het.

Volgens die tehuisbestuur het die brand omstreeks 19:15 in een van die inwoners se kamers uitgebreek en vinnig versprei.

Die tehuis het 77 inwoners wat verskillende vlakke van versorging benodig, waarvan 13 ten tyde van die brand by hul familie vir die Kerstyd was.

Vyf inwoners is in die hospitaal opgeneem terwyl die oorblywende inwoners in die saal van die Verenigende Gereformeerde kerk (wat oorkant die tehuis geleë is) geakkommodeer is.

Toe die brand ontstaan het, het die personeel en verskeie vrywilligers dadelik alles in hul vermoë gedoen om die mense so gemaklik as moontlik te maak in die saal.

Matrasse, beddens, komberse, inwoners se medikasie, sanitêre produkte, kos, drinkgoed en so meer is van die tehuis na die saal geneem.

Al die families van die inwoners is dadelik oor die situasie ingelig, asook die stappe wat geneem is om hul geliefdes te versorg en veilig te hou.

Tans is daar steeds 45 inwoners in die saal nadat meer families hul geliefdes kom haal het.

Daar word verwag dat meer mense op dié wyse geakkommodeer sal word.

Die omvang van die skade aan die tehuis moet nog bepaal word, maar voorlopig het talle inwoners nog geen ander heenkome nie en hulle sal met die goedkeuring van die VGK-gemeente in die saal tuisgaan totdat daar meer duidelikheid is oor die skade en die veiligheid van die res van die gebou, voordat die inwoners kan terugkeer.

Die bestuur van die tehuis het hul dankbaarheid uitgespreek aan ’n ieder en ’n elk wat op enige vlak die tehuis en die bejaardes bygestaan het, en nog doen, in hierdie baie moeilike tyd.

“Dit is met groot dankbaarheid dat ons kan noem dat besighede en private mense vanuit die gemeenskap reeds uitgereik het na die tehuis en dat skenkings ontvang is om te help met die hantering van die situasie.

“Huis PJ Strauss akkommodeer slegs inwoners wat maatskaplike toelaes (Sassa) ontvang en daarom is die tehuis se voortbestaan afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning.

“Hierdie insident gaan die reeds uiters beperkte hulpbronne van die tehuis onder groter druk plaas. Ons doen dus ’n beroep op besighede en individue om hul harte en hande vir die tehuis en sy inwoners oop te maak.”

Onmiddellike behoeftes sluit in:

– Nie-bederfbare produkte

– Doeke vir volwassenes

– Paslakens

– Kussings

– Waslappe

– Handdoeke

– Klere / slaapklere vir mans en vroue

– Toiletware

– Gebottelde water

Die volgende mense kan vir die aanbied van hulp of skenkings gekontak word:

• Basil de Wee (bestuurder van Ceres-dienssentrum, program van Badisa) by 079 708 5752.

• Marthinus de Villiers (voorsitter van beheerraad) by 082 324 6751.

Donasies kan ook inbetaal word by:

Rekeninghouer: Badisa

Bank: Absa-tjekrekening

Rekeningnommer: 4057204463

Takkode: 632005

Verwysing: PJStrauss

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article