Worcester ontwikkel steeds positief die toekoms in.Foto: Dr. Rudolph Scharneck


Breedevallei is toenemend besig om as ’n volledige sakesentrum te ontwikkel, waar primêre bedrywe verder diversifiseer en uitbrei – van uitsluitlik wyn- en tafeldruifverbouing na bessies, neute en sitrus, terwyl verwerkingsaanlegte soos hoenderplase, kelders en vrugteverdrogingsaanlegte van krag tot krag gaan.

Hierdie ondernemings lok op hul beurt ander sakeondernemings in logistiek, kartonverpakking en ingenieurswerke. Namate hierdie ondernemings ’n groter arbeidsmag na Worcester lok, brei Worcester ook toenemend uit en raak dit ’n voorkeur-aftreebestemming en mediesesorgsentrum.

Die Breedevallei-munisipaliteit is gevolglik besig om pro-aktief te werk te gaan om terreine vir toekomstige ontwikkelings beskikbaar te stel en om ontwikkelingsaansoeke te verwerk. Breedevallei se ekonomie is besig om ’n bloeityperk te ervaar en beleggers kyk al meer en meer na hierdie omgewing as ’n beleggersbestemming. Dit is ook ’n feit in die sakewêreld dat nuwe ontwikkelings verdere nuwe ontwikkelings lok, en gevolglik is dit interessant om te sien watter ontwikkelings tans besig is om van die grond af te kom en wat nog in die pyplyn is.

Drostdypark- Ligte NywerheidsGebied

Die volgende massa-infrastruktuur is reeds gereed om hierdie ontwikkeling te akkommodeer: (1) voldoende watertoevoer vanuit die bestaande Langerug-reservoirs en die afvoerpyplyn is op die grens van die beplande ontwikkeling geleë en daar kan maklik ’n aansluiting op die pyplyn gemaak word. (2) ’n Elektrisiteitsaansluiting vir die eerste fase van die ontwikkeling is reeds op die perseel beskikbaar. (3) Toegang tot die ontwikkeling kan ook drieledig geskied, naamlik van die Nekkiespad, Somersetstraat en Distilleryweg af. (4) Stormwaterdreinering kan ook in die bestaande stormwaterstelsel gekanaliseer en dan na die Breederivier gevoer word.

Sekere massa-infrastruktuurdienste moet egter nog voorsien word, naamlik (1) ’n rioolpompstasie en styglyn na die Worcester-Rioolsuiweringswerke; (2) die opgradering van die elektrisiteitstoevoer vir verdere ontwikkelingsfases; (3) verdere stormwaterdreinering en retensiedamme vir verdere ontwikkelingsfases; en (4) die aanbring van alle interne dienste.

Die kostes vir die aanlê van hierdie dienste moet nog bepaal word.

Uitvlugt- nywerheidsOntwikkeling

Wat massa-infrastruktuur betref, is daar reeds voldoende watertoevoer van die nuwe 20-megaliter- Pre-Load-reservoir bokant die Worcester- gholfbaan, wat in Desember voltooi is.

Alle ander massa-infrastruktuurdienste moet nog voorsien word, naamlik: (1) aansluiting by die nuwe 20-megaliter- Pre-Load-reservoir se pyplyding; (2) rioolafvoer na die Worcester-rioolsuiweringswerke; (3) elektrisiteitstoevoer en aansluiting; (4) ’n toegangspad van die beoogde Worcester- oostelike verbypad (eastern Bypass); (5) stormwaterdreinering na die Hexrivier; en (6) vloedbeskerming vir ’n 100-jaar-vloed.

Die kostes vir die aanlê van hierdie dienste moet nog bepaal word.

Aurecon se Uitvlugt- ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (urban vision framework) het die koste vir die aanlê van die interne dienste in 2018 op ongeveer R227,3 miljoen bereken.

Millhouse-Ontwikkeling

Die ontwikkeling wat die vinnigste gaan realiseer, is die nuwe ‘Millhouse’-ontwikkeling, langs Mountain Mill Mall se parkeerterrein se westelike kant. Hierdie ontwikkeling gaan uit vyf ondernemings bestaan, te wete Sportsman’s Warehouse, Outdoor Warehouse, West Pack Lifestyle Shop, Cab Foods en Pet Zone.

Hierdie ontwikkeling behoort teen einde April vanjaar voltooi te wees.

Winkelsentrum by Parkslot 15

’n Winkelsentrum word by Parkslot 15, Worcester Hills, gebou. Dit is daardie singel wat agterom Builders Warehouse en CTM loop en dan weer by Mountain Mill Drive aansluit. Hierdie sentrum is reeds 70% voltooi. Hierdie gebou gaan ’n winkelsentrum wees, maar in hierdie stadium is dit nog onbekend watter winkels daar gaan wees.

Altona-WINKELsentrum

By die Altona Boulevard- en Silver Tree-aansluiting (met ander woorde die eerste verkeersirkel by Altona) is ’n groot advertensiebord opgerig. waarop staan dat ’n nuwe Altona-winkelsentrum binnekort daar geopen sal word (coming soon).

Die ontwikkelaar het egter nog nie ’n ontwikkelingsaansoek en terreinontwikkelingsplan vir hierdie ontwikkeling by die munisipaliteit ingedien nie, dus – alvorens dit nie gebeur nie – wag almal nog vir hierdie ontwikkelingsaansoek om by die munisipaliteit ingedien te word

Een van die oponthoude met hierdie ontwikkeling is die finalisering van wie die ankerhuurders gaan wees.

Nuwe Alton-Aftree-Oord

By die Altona Boulevard- en Silver Tree-aansluiting (met ander woorde die eerste verkeersirkel by Altona) het die stof al begin draai waar die nuwe Altona-Aftree-Oord gaan kom. Die ontwikkelaar se beplanning vir hierdie omgewing is as volg:. ’n Bystandsorgsentrum met 44 eenhede vir ’n verswaktesorg-afdeling en 43 klein losstaande een-slaapkamer-wooneenhede;. Drie blokke drieverdieping­woonstelle met 137 eenhede;. 63 individuele erwe van 200 vierkante meter vir twee-slaapkamer-kothuise; en. 77 individuele erwe van 200 tot 400 vierkante meter vir groter eenhede.

Voorsiening vir 364 eenhede altesaam word by hierdie ontwikkeling gemaak.

Barclay’s Farm-Ontwikkeling

Dit is ’n ontwikkeling van 10,8 hektaar agter Altona, en gaan uit kompleksbehuising met 82 groot erwe en 86 kleiner erwe bestaan. Voorsiening word vir ’n bystandsorgfasiliteit en ’n mediesesorgfasiliteit gemaak.

Die Stadsbeplannings­afdeling het reeds die goedkeuringsbrief vir hierdie ontwikkeling gegee.

Namate ’n mens uit die bostaande voorbeelde kan sien wat reeds vermag is – en wat in die afsienbare toekoms vermag gaan word – het die Breedevallei-munisipaliteit wel daarin geslaag om ’n gesonde klimaat vir ontwikkelings en beleggings te skep.

Die Breedevallei het die beskikbare grond en die beskikbare water om verdere ontwikkelings en beleggings te akkomodeer – en baie belangrik: die politieke wil – om verdere ontwikkelings en beleggings te lok, so “laat dit dan ook die boodskap wees wat hiermee uitgaan”, het die munisipaliteit gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article