WORCESTER: Alhoewel HTS Drostdy in Worcester ‘n finansiële hupstoot gekry het toe die skool van 28 September tot 1 Oktober gasheer gespeel het vir die 2026 Hollywood Foundation Iqhawe-week vir o.15-spanne, bly die skool se wens om binne die volgende paar jaar gasheer te speel vir ‘n Craven- of Akademieweek.
So sê ‘n optimistiese Armand Swart, sporthoof by HTS Drostdy, aan Standard Breederivier Gazette.
Die Hollywood Foundation Iqhawe-week is ‘n toonaangewende rugbyontwikkelingstoernooi op voetsoolvlak vir seuns en meisies onder 15 in Suid-Afrika.
Suidwestelike Distrikte is Donderdag (1 Oktober) by HTS Drostdy in Worcester as kampioene van die 2026 Hollywood Foundation Iqhawe-week vir o.15-spanne aangewys nadat die Eagles vir Grens met 10-7 geklop het voor ‘n skare spelers, afrigters, ouers en ondersteuners.
Die Iqhawe-week bring 16 o.15-verteenwoordigende spanne van oor Suid-Afrika heen byeen en bied ‘n uitstekende platform vir jong rugbyspelers om hul vaardighede ten toon te stel en deure na toekomstige geleenthede oop te maak.
SA Rugby Legends was die organiseerders van die toernooi.
Volgens Swart het HTS Drostdy vroeër ‘n versoek ingestuur waarin die skool vra om gasheer vir die toernooi te speel.
Hy sê ‘n besoek deur Jesreal Claassen van SA Rugby Legends en Andy Magazi van Hollywood Foundation aan die skool het gevolg. Volgens Swart was hulle beïndruk met wat die skool kon bied.
“Ons het die 16 unies geakkommodeer en die wedstryde is op twee van ons vyf rugbyvelde gespeel.
“Afgesien van die finansiële hupstoot wat ons hieruit kon kry, bly ons wens om binne die volgende paar jaar ‘n Cravenweek of Akademieweek aan te bied.”
Volgens Swart is die skool se sport en ander fasiliteite geskik vir groot toernooie – ook omdat sowat 550 mense geakkommodeer kan word.
Hy sê die skool het die afgelope paar jaar reeds verskeie groot toernooie suksesvol aangebied.
Swart praat hier van die Akademie-
week (2014) en die Noord-Suid-toernooi (2016, 2017, 2018, 2022). Volgens hom het HTS boonop in 2024 Krieket Suid-Afrika se o.17 Platteland-week aangebied.
Hy sê in September verlede jaar het HTS ook die o.17- Interprovinsiale Sewestoernooi aangebied. “Sulke toernooie gee ons die geleent- heid om ons fasiliteite te benut en aan ander te wys.
“Ons kan uit sulke toernooie ons fasiliteite nog meer verbeter en natuurlik is dit ‘n reuse finansiële hupstoot vir ondernemings in ons gemeenskap.”
Claassen sê: “Ons wil ook ons opregte dank uitspreek teenoor die Hollywood Foundation vir sy volgehoue onder-
steuning, teenoor HTS Drostdy vir sy gasvryheid, en teenoor al die afrigters, bestuurders, wedstrydbeamptes, vrywilligers en ouers wat die week moontlik gemaak het.”
LEES OOK: Geliefde Boishaai-breier lei WP by vanjaar se Cravenweek





