HTS Drostdy oud-leerder lig Curriebeker tweede keer vir Griekwas

Albert Liebenberg pronk met die Curriebeker. By hom is sy vrou, Lara.

HTS Drostdy oud-leerder lig Curriebeker tweede keer vir Griekwas


Hy is ‘n gekwalifiseerde meganiese ingenieur en het boonop die Curriebeker voorverlede naweek as kaptein van die Griekwas ‘n tweede keer gelig.

Albert Liebenberg (28), ‘n oud-leerder van die HTS Drostdy in Worcester, was die afgelope seisoen die kaptein van die

Griekwas en het luidens ‘n Facebook-inskrywing deur sy alma mater “ ’n kardinale rol in die span se sukses vervul”.

Hy sê hy was nog baie klein toe hy in rugby begin belangstel het. Volgens hom het hy die klubrugby, wat hy op hoërskool gespeel het, baie geniet.

Dis duidelik dat die rugbybloed sterk deur dié jong man se are vloei omdat sy oupa Hendrik Liebenberg destyds as vleuel vir die Griekwas uitgedraf het, terwyl sy pa, Willem, in vroeë jare as flank en slot ook vir die Griekwas uitgedraf het.

Lees ook: Griekwas: Curriebeker-kampioene kry helde-ontvangs in Kimberley

Volgens Albert het hy nadat hy in 2016 aan die HTS Drostdy gematrikuleer het, meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.

“Kort nadat ek my studies in my vyfde jaar voltooi het, is ek vir ‘n jaar Frankryk toe waar ek vir Lannemezan in Suid-Frankryk gespeel het.

“Terwyl ek in Frankryk was, het André Markgraaff van die Griekwas my gebel. Hy het aan my genoem hulle kort manne wat 80 minute op slot kan speel. Ek het in ­Junie 2022 teruggekeer Suid-Afrika toe,” onthou hy.

“Ek kon nie in my eerste jaar by die Griekwas sommer kaptein wees nie, want ek sou dit nie gemaak het nie. Dit het my vier jaar geneem om die vertroue van die spelers te wen. Dit vat tyd; enige leier sal dit vir jou sê .

“Ons het seker so tien senior spelers, wat my ondersteun en help. Hulle maak my werk vir my baie maklik.”

Albert het ook groot lof vir hul hoof-­afrigter, Pieter Bergh.

‘ek is een van die spelers’

“Ek beskou myself as een van die spe­lers. Ek was fortunate genoeg om kaptein te kon wees. Die ouens het hul kant gebring.

“Ons het gesê ons wil dit [die Curriebeker] weer wen. Die ouens het almal ingekoop – van die bestuur tot elke speler – en ons het die vrugte gepluk.”

Die Griekwas het die Pumas in die Curriebeker-eindstryd vanjaar in Kimberley met 23-16 verslaan.

Hy sê om die Curriebeker ‘n tweede keer omhoog te kon hou, was ongelooflik. Volgens hom het dit die tweede keer “onwerklik” gevoel.

Albert woon tans in Kimberley en is die afgelope drie jaar met sy vrou, Lara, getroud.

Op ‘n vraag hoe hy ‘n balans tussen sy rugby en persoonlike lewe handhaaf, sê hy: “Dis maar moeilik. Jy reis baie, dus is jy baie van die huis af weg.

“Jou tyd is beperk, want jy moet dit deel met jou ondersteuners, spelers en familie. Jy moet tyd skep vir jou geliefdes en ‘n bietjie wegbreek, maar dis nie altyd maklik nie. Dis maar die prys wat ‘n mens moet betaal.”

ingenieurskant lewend gehou

Hy sê om sy ‘ingenieurskant lewendig te hou’, het hy van middel 2023 tot middel 2024 bietjie werk vir GRW gedoen. Kort hierna het hy by ‘n ingenieursmaatskappy in Kimberley uitgehelp.

Hy sê rugby bly maar sy hoof-fokus.

Die Griekwas is tans in Georgia, waar hulle aan die Tbilisi Cup deelneem. Vandag (24 September) meet hulle kragte teen Black Lion en 29 September kom hulle teen Lusitanos te staan. Op 4 Oktober spook die Griekwas sake uit met Iberians.

• Die HTS Drostdy het nog twee van sy oud-leerders in ‘n Facebook-inskrywing geloof.

“Wilco Louw (matriek 2012) was weer eens ‘n yster in die skrums vir die Springbokke tydens The Greatest Rivalry teen die All Blacks. Wilco het die Springbokke reeds in 35 toetse verteenwoordig. Leachim Adams (matriek 2021) was onlangs deel van Suid-Afrika se Universiteite-7’s-span, wat aan die FISU-wêrelduniversiteitekampioenskap in Stellenbosch deelgeneem het. Leachim is in die eindwedstryd as speler van die wedstryd aangewys. Hy is ook as die beste speler van die toernooi aangewys en het die meeste drieë gedruk.”

Albert Liebenberg hou die Curriebeker omhoog na die Griekwas se oorwinning teen die Pumas.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article