Gerhard Burger (19) van HTS Drostdy het in die afgelope matriekeindeksamen ’n gemiddeld van 97,3% behaal.


Die 19-jarige Gerhard Burger, wat verlede jaar sy matriekjaar aan die HTS Drostdy voltooi het, is omtrent blinkoog oor sy toekoms nadat hy sewe onderskeidings behaal het.

Burger was in 2022 ook sy skool se hoofseun en was oorstelp van vreugde toe hy Vrydag (20 Januarie) sy uitslae ontvang het. Hy het ’n gemiddeld van 97,3% behaal met onderskeidings in Afrikaans (94%), Engels (96%), wiskunde (100%), lewensoriëntering (100%), fisiese wetenskappe (98%), lewenswetenskappe (95%) en rekeningkunde (98%).

“Ek is baie dankbaar en bly daaroor. Die eindeksamen was meer uitdagend as enige ander eksamen wat ek al geskryf het – nie omdat die vraestelle noodwendig moeiliker was nie, maar ’n mens voel meer gespanne, en dit speel nogal ’n groot rol,” vertel hy aan Standard.

Hy is ook ’n kranige sportman en was die Boland-Cravenweek se o.18-onderkaptein en ook kaptein van die o.17-plattelandse krieketspan.

Hy sê hy en sy medematrieks is deur ’n paar uitdagende jaar weens die pandemie.

“Ons moes die afgelope twee jaar, veral met Covid-19, leer om op ons eie reg te kom. Toe dinge weer meer normaal geword het, was dit weer ’n uitdaging om al die balle in die lug te hou. Dit was ewe skielik nie meer net akademie nie, maar weer sport, kultuur en leierskap wat ons aandag vereis het.”

Hierdie nederige negentienjarige sluit ook eersdaags by die Universiteit van Kaapstad aan om sy mediese studies te begin en hoop om eendag in kardiologie te spesialiseer.

Hy gee ook raad aan die matriekgroep van 2023: “Sorg dat jy elke dag hard werk en jou deel doen. Hoe eet ’n mens ’n olifant? Stukkie vir stukkie. Sukses is die som van klein pogings elke dag, nie een groot gebeurtenis nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article