Cameron du Toit (matriek

Cameron du Toit, ’n ster-matrikulant aan die Hoërskool Breërivier in Worcester, het verlede Vrydag (4 Augustus) haar tweede (en laaste) loopbaanuitstalling by dié skool suksesvol afgesluit.

Dié slimkop, wat reeds by talle universiteite oor die land heen goedkeuring vir ’n graad in regte ontvang het, het vir die tweede agtereenvolgende jaar daarin geslaag om leerders by haar skool met inligting toe te rus oor loopbaangeleenthede om ná skool na te streef.

’n Groot aantal plaaslike instansies het die dag bygewoon en honderde leerders van die Hoërskool Breërivier die geleentheid gegun om meer uit te vind oor presies wat hul belangstelling dalk kan prikkel.

Verteenwoordigers van die plaaslike polisiekantoor, brandweer, verkeersdepartement en mediese nooddienste was daar, asook die Universiteit Stellenbosch (US), die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie (KSUT), Terence Harker Architecture in Worcester, sowel as Shortles Elton Attorneys Inc.

Volgens Du Toit het sy dit baie geniet om hierdie insiggewende dag self te reël deur die verskeie instansies te kontak.

“Ek wil graag die leerders se kennis verbreed en hulle aan alternatiewe loopbane bekendstel,” het Du Toit haar motivering vir waarom sy die inisiatief geneem het om die uitstalling te reël, verduidelik.

Sy sê sy is opgewonde oor wat voorlê, maar ook senuweeagtig oor die matriekeindeksamen wat al hoe nader kruip en die volwasse lewe wat hierna begin.

Nietemin is sy in haar noppies oor haar loopbaankeuse as prokureur, en uiteindelik advokaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article