’n Plaaslike menslikehulpbronbestuurder, Mieke Janse van Renburg, het onlangs by die Future of HR Awards die toekenning vir die beste nasionale menslikehulpbronbestuurder ontvang.
Hierdie is ’n gesogte toekenning wat erkenning gee aan die topleiers in menslikehulpbronbestuur (HR), HR-vernuwing en HR-tegnologie in Suider-Afrika. Die toekennings is daarop gemik om uitmuntende prestasies te vier en riglyne vir HR-beroepslui – plaaslik en internasionaal – te stel.
Vanjaar het die toekennings nuwe afdelings ingesluit om die jongste tendense in menslike hulpbronbestuur te weerspieël.
Mieke, ’n menslikehulpbronbestuurder van Africa Biomass Company (ABC) in Worcester, is vereer vir haar vernuwing, leierskap en toewyding in haar rol as menslikehulpbronbestuurder.
Sy is sedert 2014 by ABC, ’n maatskappy wat van 34 werknemers tot ’n vooruitstrewende werksmag van meer as 180 werknemers gegroei het.
Mieke sê dat die toekenning baie spesiaal is vir haar, aangesien dit erkenning gee aan die harde werk en toewyding van haar span.
“Dit is ’n herinnering dat dit wat ons doen, ’n positiewe uitwerking op ons mense en die maatskappy as geheel het. Dit motiveer my om verder te groei en nog groter bydraes te lewer.”
Sy sê verder hierdie toekenning beteken vir die maatskappy dat hulle ’n sterk menslikehulpbron-strategie het wat werklik waarde tot die onderneming voeg.
“Dit bevestig dat ons as ’n organisasie talent aanmoedig en ontwikkel en dat ons fokus op ons mense noodsaaklik is vir ons sukses.
“Menslike hulpbronne is van kritieke belang omdat dit die hart en siel van enige suksesvolle organisasie is. Ons verseker dat ons ’n omgewing skep waar mense gelukkig, gemotiveerd en produktief is deur voorkeur te gee aan die ontwikkeling en welstand van ons werknemers. Dit het ’n regstreekse invloed op die sukses en volhoubaarheid van ons maatskappy.
“Ek wil graag die geleentheid gebruik om my waardering uit te spreek vir die ondersteuning wat ek van my kollegas en leierskapspan ontvang. Hierdie toekenning is nie net ’n persoonlike prestasie nie, maar ’n weerspieëling van die kollektiewe kultuur van ons maatskappy, wat daarop gefokus is om talent te ontwikkel en mense in hul groei te ondersteun.”





