Smiley Daniels, Worcester se grootste Robertson Town-ondersteuner, sê sy bloed is wit en blou.Foto’s: Dominique Jeftha


Smiley Daniels,
Henry “Smiley” Daniels voor sy huis wat die kleur van sy gunstelingrugbyspan, Robertson Town, geverf is.

Henry “Smiley” Daniels (64), ’n boorling van Robertson, bly die afgelope 32 jaar in Worcester, maar sy hart lê steeds in Robertson.

Standard het gaan inloer by Robertson Town-rugbyvoetbalklub se grootste ondersteuner in Worcester.

Daniels, wat in 1990 Worcester toe getrek het, is ’n trotse Robertson Town-ondersteuner. Sy huis is die kenmerkende wit en blou van Town se kleure, maar, sê hy, hy is eintlik ontevrede omdat hulle nie die presiese blou gekry het wat hy wou hê nie.

“As ek sê die huis moet ’n ander kleur geverf word, sê hy vir my ‘Hou by die blou’,” vertel Daniels se vrou, Ant Sussie. 

Smiley Daniels,
Smiley Daniels, Worcester se grootste Robertson Town-ondersteuner, sê sy bloed is wit en blou.Foto’s: Dominique Jeftha

Daniels sê baie van die mense in die dorp vra hom hoekom hy nog nie een van die ander spanne in Worcester gekies het om te ondersteun nie.

“Hulle sê: ‘Jy is al 32 jaar in Worcester en het nog nie na Villa verander nie!’ Dan sê ek: ‘Het jy gesien of daar rooi en geel strepe in die lug is? Daar is niks nie, net wit en blou!’,” vertel hy laggend.

Tot sy kleinkinders ondersteun die wit en blou van Robertson Town. “My kleinkinders dra ook hul wit en blou met trots.”

Hy sê sy liefde vir die span en rugby het begin toe sy pa hom as kind saam rugbyveld toe geneem het. Van daardie oomblik af het die rugbygogga gebyt.

Ant Sussie sê hy gaan so ver om op die nasionale pad te gaan staan en wag vir sy span wanneer hulle weg speel.

Hy gaan selfs verder om te ryloop wanneer sy span speel.

“Of dit nou Montagu of Ashton is, ek hike om my span in aksie te sien,” sê Daniels. Ant Sussie voeg by selfs die reën kan nie haar man keer om by ’n wedstryd te wees nie.

“Ek en Jerome Michaels is van die min Robertson Town-ondersteuners buite Robertson. Dit is wat ons uniek maak.”

Daniels het self in die jare tagtig vir die tweede en derde span uitgedraf en sê sy liefde vir Robertson Town is onbeskryflik. Sy gunstelinglied is We care for the White and Blue.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article