Die promosieliga-sokkerspan van View of Hope was die afgelope Saterdag in ’n verwoestende bui toe hy die span van Eleven Experience gemaklik met 7-1 geklop het.

Die wedstryd op Esselenpark-stadion het verskeie hoogtepunte opgelewer.

Hope se aanvallende middelskakel, Jonathan Prins, het vir die tweede agtereenvolgende naweek ’n driekuns behaal. Boonop het die doel van die dag ook aan Prins behoort toe hy die doelwagter van Levens met ’n kanonskoot van 40 m geklop het.

Prins se spanmaat en vlugvoetige doelskieter, Dimitri van Rooy, het geskitter en ook ’n driekuns behaal.

View of Hope se sewende doel is deur die plaasvervanger Iwan Helm aangeteken nadat hy skaars ’n minuut op die veld was. Goeie voorgevoel en tydsberekening deur Helm het aan hom dié doel besorg.

Levens het in die doodsnikke van die wedstryd ’n pasella-doel gekry nadat een van Hope se spelers die bal met sy hand in sy eie doelgebied hanteer het.

Ander uitblinkers aan die Hope-kant was sy doelwagter Sandro Jaftha wat met akrobatiese keerwerk die doelskieters van Levens in toom gehou het.

Jafta word hoog aangeslaan as die topdoelwagter op die dorp. In sekere kringe word geglo dat hy nooit ’n swak wedstryd speel nie.

Romano van der Westhuizen het ook in die enjinkamer van Hope geskitter en het talle aanvalle van Levens gefnuik met klipharde, skoon verdediging.

Die kaptein Dillon Fortuin het Hope se verdedigingslinie goed gelei. Lionel Minnaar, Hope se afrigter, het egter die jeugdige Kayden Pass as sy speler van die wedstryd aangewys aangesien hy geskitter het as linkermiddelskakel. Volgens Minnaar het hy ondanks sy jeugdigheid met groot selfvertroue gespeel en goed met die res van Hope se middelveldspelers geskakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article