Hoogstraat was Saterdag 25 November vir ’n hele ruk gesluit weens ’n bomdreigement by ’n bank.
Selfs buur-geboue en ondernemings is ontruim uit vrees vir die omvang van die skade as dit dalk ontplof.
“Om 11:00, toe een van die bank se personeellede die persoon volgende in die ry roep, het ’n onbekende man ’n koelsak aan haar oorhandig. Toe sy binne-in die sak kyk, was daar ’n nota aan die binnekant geplak en ’n apparaat was in die sak. Die nota het verduidelik dat daar ’n pypbom in die sakkie is. Die nota het ook gelui die noodknoppie moet nie gedruk word nie en dat die polisie nie gebel moet word nie. Die man wat die sakkie aan haar oorhandig het, het toe vir haar gesê ‘ek kyk of julle fo**ers wakker is, ek is van die polisie.’ Die man het toe by die bank uitgestap,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.
Die vrou het toe haar bestuurder attent gemaak op die sakkie en sy inhoud en die bestuurder het onmiddellik die polisie na die bank ontbied.
“Die vrou het die sakkie as swaar beskryf en binne-in kon sy ’n battery sien.”
Die polisie het summier die bom- eenheid na die toneel laat kom en hulle het bevestig dis inderdaad ’n regte bom wat in die swart sakkie was.
“Buiten die nota wat aan die binnekant van die sakkie se deksel geplak was, het die sakkie ook ’n swart herlaaibare lig bevat met die agterkant verwyder,” verduidelik Jacobs.
Enigeen met inligting oor wie die man is wat die bom in die bank gaan afgee het, kan die Worcester-polisie by 023 348 8600 skakel.




