Christopher Africa, Avianpak Primêr se hoof, tree aan die einde van die jaar af. Foto: Lise Beyers

Credit: SYSTEM

Avianpark Primêr se hoof, Christopher Africa, tree eersdaags af.

Africa is as hoof van die skool aangestel in dieselfde jaar as wat die skool sy deure in 2010 geopen het.

Hy bieg dat hy in die eerste plek nie ’n onderwyser wou word nie.

“Ek wou iets heeltemal anders gaan studeer het, maar my geldsake het dit nie destyds moontlik gemaak nie. Toe besluit ek maar op onderwys en kry toe my Diploma 3 in onderwys. My loopbaan as onderwyser en skoolhoof was die beste jare van my lewe tot dusver.

“Voordat ek hier begin het, is ’n waarnemende hoof aangestel. Ek het my pos as hoof van Avianpark Primêr op 1 Junie 2010 betree,” verduidelik hy.

Africa het sy loopbaan in die onderwys in 1988 begin met sy eerste aanstelling in Grootbrakrivier. Daarna het hy poste by baie ander skole beklee en is op een tydstip afgelê.

“Ek is selfs eenkeer afgelê. Destyds het dit mos só gewerk – die laaste ou in is die eerste uit, en ongelukkig was ek toe laaste in.

“Maar in daai tydperk het ek verder gaan studeer,” vertel Africa.

Hy sê ook hy het oor die jare heen kinders in allerhande vakke onderrig.

“Ek het baie vakke gegee. Ek hou van skool hou en veral om klas te gee. Ek het nog tot hierdie jaar natuurwetenskap en tegnologie-lesse by die skool gegee.”

Africa meen hy het homself altyd tot die beste van sy vermoë aangewend en het die ekstra myl gestap om op hoogte van die voortdurende veranderings in die onderwys te bly.

“Ek het altyd probeer om by al die veranderings aan te pas. Ek het gereeld kursusse bygewoon om myself te bemagtig om die veranderings makliker baas te raak.”

Vir nou sluit sy aftreeplanne ’n bietjie reis en baie rus in.

“En dalk ook ’n bietjie houtwerk . . .

“Ek gaan gewis nie stagneer nie, maar ek dink ook nie ek sal weer by ’n skool instap om te gaan klasgee nie. Ek het te lekker by Avianpark gewerk en dink nie ek gaan sommer weer sulke goeie kollegas kry nie.”

Aan die huidige leerders by die skool wil hy graag die volgende boodskap gee: “Enigeen kan bo hul omstandighede uitstyg. Ek self kom uit moeilike omstandighede, maar dit hang van jouself af wat jy doen. Moenie laat dinge jou inperk nie; jy kan enigiets word. Aan die ouers en die res van die gemeenskap wil ek dankie sê dat julle so puik en ondersteunend was.”

Hy is ook dankbaar vir kollegas wat sy jare as hoof van Avianpark Primêr die beste jare van sy loopbaan gemaak het. “Dankie aan my kollegas. Ek sou met niemand anders wou werk nie. Dit was vir my lekker om soggens werk toe te gaan en in die personeelkamer aan te kom. Ek vertrou dat julle almal voorspoed op jul paadjies sal ervaar. Baie dankie vir die laaste twaalf jaar. Soos hulle sê – ’n hoof is net so goed soos sy personeel, en julle was die beste.”

Wanneer die skole volgende week vir die jaar sluit, sal dit ook Africa se laaste dag as hoof en onderwyser wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article