Nico Fourie saam met drie van sy honde, Otto, Allie, en Russel.


Nico Fourie, ’n inwoner van Tulbagh, het onlangs die organisasie sonder winsbejag 4 Dogs and a Tuk-Tukgestig wat daarop fokus om geld vir verskeie dierewelsynorganisasies in te samel, asook bewusmaking oor dierewelsyn te skep.

Hierdie bewusmakingswerk gaan plaasvind deur ’n avontuurlustige reis in ’n tuk-tuk te onderneem na verskillende Afrika-lande, insluitend Namibië, waar Fourie sy eerste stop sal maak, dan Zambië, Tanzanië, Burundi, Rwanda, Uganda, Kenia, Tanzanië, Malawi, Zimbabwe en heel laaste Botswana.

Fourie sal in hierdie tien lande verskeie skole en universiteite besoek om bewusmaking oor troeteldiere te skep.

Tydens sy reis sal Fourie ook verskeie dierewelsynorganisasies sonder winsbejag en veeartse besoek om vas te stel watter van dié organisasies en artse ’n gedeelte van die R10 miljoen-donasie moet ontvang wat ingevorder sal word nadat Fourie teruggekeer het huis toe.

Dierewelsynorganisasies in beide Suid-Afrika en Afrika sal ’n deel van hierdie R10 miljoen ontvang.

Dit is immers nie ál wat Fourie se avontuur spesiaal maak nie – hy gaan hierdie 14 000 km aanpak met sy twee honde Tessa en Allie, saam met ’n derde hond, wat in die tuk-tuk vasgemaak sal word met ’n spesiaal ontwerpte harnas en brille deur Doggles.

Twee van Fourie se honde, Otto en Russel, is onlangs oorlede, maar gaan saam met hul pa in gees reis nadat Fourie hul lyke veras het.

Hierdie twee aangenome honde was familie van mekaar en het binne ’n week van mekaar gesterf.

Hulle het ook saam met hul mensepa vele tuk-tuk-avonture agter die rug, en is ook deel van die benaming van Fourie se organisasie 4 Dogs and a Tuk-Tuk.

Die rede vir hierdie reis, wat op 24 Junie sal begin, is Fourie se liefde vir troeteldiere en om soveel moontlik van dié wat vergete word te red.

Die reis wat dié avontuurlustige Breedevalleier gaan aanpak, het reeds baie aandag getrek, met die radiostasie Cape Talk wat ’n onderhoud gevoer het met Fourie, en gereelde uitsendings met hom sal hê tydens sy twee en ’n half maande lange reis om sy vordering met die Wes-Kaap te deel.

Fourie het verduidelik dat hy tussen R400 000 en R500 000 sal nodig hê om die 14 000 km-reis te voltooi. Hy is tans op soek na borge en donasies om sy reiskoste te dek. ’n Ondersteunende voertuig sal ook die reis saam met hom aanpak.

Volgens dié hondeliefhebber sal hy slegs in diere-vriendelike akkommodasie bly om die boodskap oor te dra aan honde-eienaars dat hulle steeds met hul diere vakansie kan hou.

Fourie sê die meeste van die kommunikasie, soos byvoorbeeld die verblyfsresensies, sal vanuit sy drie viervoetige vriende se perspektief vertel word om die fokus te plaas op die feit dat hy die bewusmakingsreis vir troeteldiere aanpak.

Volgens hom gaan hy ’n dierekommunikeerder skakel om die drie honde se gedrag te beskryf waarna die kommunikeerder die resensies in die honde se “stem” toonset.

Fourie is oorspronklik van Kaapstad, maar woon sedert April 2022 in Tulbagh nadat hy besluit het om af te tree.

Sy passie vir tuk-tuk-ry het in Januarie 2019 begin toe hy die tuk-tuk waarmee hy tans ry van Indië bestel het.

. Vir enige verdere inligting oor 4 Dogs and a Tuk-Tuk kan dié organisasie se Facebookblad geraadpleeg word. Vind ook Fourie se kontakbesonderhede hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article