Min Worcesteriete en nog minder Suid-Afrikaners weet dat ’n vermaaklik­heids­persoonlikheid wat destyds ’n algemene naam in Hollywood was, van die Breederiviervallei was.

En nee, dit is nie die nimlike Charlize Theron nie, maar Josef Pessach, of in die vermaaklikheidswêreld bekend as Josef Marais.

En niemand anders as die legendariese Suid-Afrikaanse skrywer, musikant en teaterpersoonlikheid David Kramer, ook ’n boorling van Worcester, het die ontdekking oor hierdie verlore Suid-Afrikaanse skat gemaak nie.

Die storie van Josef Marais het Kramer só gefassineer dat hy verlede jaar die man en sy musiek met sy bekroonde musiekblyspel Ver in die wêreld Kittie weer “lewendig” gemaak het.

“Dit bied ’n venster op die wêreld van Josef en Rosa Marais. Hul verhaal is ’n uiters vermaaklike reis, met ’n verskeidenheid sangstyle en oorspronklike musikale deuntjies. Ver in die wêreld Kittie word geïnspireer deur ’n ware verhaal waarvan min Suid-Afrikaners bewus is,” sê Kramer.

Hy vertel hy het die geskiedenis van Josef reeds in die jare 70 begin navors, toe sy vrou se tannie, Lilly Lange van Worcester, hulle van ’n destyds liefde van haar vertel het.

Josef is in 1905 buite Somerset-Wes gebore en het as tienjarige seun saam met sy familie na Worcester getrek. Hiér was sy pa die eienaar van die destydse Alexander Hotel, later die Brandwacht Hotel.

Hulle het ’n kleinhoewe buite die dorp naby Chavonnis gehad en dis hier waar die jong Josef – toe reeds ’n ywerige musikant – die plaaswerker Koos van Khoi-herkoms ontmoet het. Josef was in vervoering oor Koos se stories en musiek van die Khoi asook Afrikaanse liedjies.

Later jare in die buiteland sou Josef selfs ’n kinderboek publiseer oor Koos se stories en liedere.

As jongman sluit Koos by die Kaapse Filharmoniese Orkes as violis aan en vertrek in die 1930’s na Londen om sy klassiekemusiekloopbaan voort te sit.

In daardie stadium was die Britse Uitsaaidiens (BBC) op soek na Suid-Afrikaanse musiek om sodoende hul uitsaaidiens in Suid-Afrika uit te brei. Josef het hierdie geleentheid aangegryp en tradisionele volksliedere uit sy moederland na Engels vertaal en getoonset.

Dít het die BBC so beïndruk dat hulle vir hom sy eie radioprogram, Stories of the Veld, gegee het, waartydens hy baie van onder andere Koos se stories vertel en liedere uit Suid-Afrika gesing het.

Josef is in die 1930’s na Amerika gelok deur die baie groot uitsaaikorporasie NBC, waar hy ’n soortgelyke radioprogram begin het – New York, om presies te wees.

Hier het Josef sy vrou, Rosa de Miranda, ’n vlugteling tydens die Tweede Wêreldoorlog uit die oorloggeteisterde Amsterdam, ontmoet.

Albei het besonderse musiektalent gehad. Hulle is in 1947 getroud en het as Marais en Miranda saamspan.

Hulle het langer as 30 jaar dwarsoor Amerika asook op internasionale platforms opgetree en baie Suid-Afrikaanse tradisionele volksballades en ander liedjies soos “Zulu Warrior” opgeneem.

Die egpaar se gewildheid het hulle na Hollywood gelei, waar hulle nesskop en spoedig sosiale vlinders geword het, wat skouers met befaamde Hollywood- akteurs soos Burt Lancaster, Humphrey Boughart en Lauren Bacall skuur.

Hul plate verkoop soos soetkoek en hul liedere word die hele VSA vol oor die radio gespeel.

Verskeie van hul liedjies word ook deur hoëprofiel- Amerikaanse opnamekunstenaars opgeneem, soos “Sugar Bush”(Josef se vertaling van “Suikerbossie”), ’n duet met Doris Day en Frankie Laine, “A-round the Corner”(“Beneath the Berry Tree”) gesing deur Jo Stafford en “Ma Says, Pa Says”, as duet met Doris Day en Johnnie Ray.

Ver in die wêreld vertel hierdie verhaal, maar so ook die een van Kittie Jaftha, wat nie hul sukses gevier het nie. Sy voel verraai en glo hierdie liedjies behoort nie aan Marais en Miranda nie. Sy weet dat Josef hierdie liedjies by Koos Heuningbek gehoor het, wat op sy pa se plaas gewerk het.

Ver in die wêreld
Kittie is bekroon met die kykNET-Fiësta-prys vir Beste musiekgedrewe produksie, die Kanna-prys vir Beste musiekaanbieding 2023, sowel as die Kanna-prys vir Beste ensemble 2023.

Ver in die wêreld Kittie sal van Saterdag 27 Julie tot Sondag 11 Augustus by Die Blik opgevoer word.

Kaartjies kos R230 en R200 vir seniors.

Daar is 10%-afslag vir bespreking van 10 en meer sitplekke.

Bespreek by Webtickets (Die Blik, 110 Gunners Circle, Epping).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article