View of Hope se spelers van die wedstryd, Fabian Esterhuizen en Kelvin Butland. Saam met hulle is die nuwe Mej. View Of Hope, Anastasia Kouter.

Credit: SYSTEM

Die View of Hope-sokkerklub moes Vrydag 23:00 verneem die promosieliga-uitspeelwedstryde is weer uitgestel – dié keer weens ’n dringende hofbevel wat eerbiedig moes word.

Maar Sondag (14 Augustus) was alle oë op Hope se wedstryd teen sy ou aartsvyand, “Paas” se Manchester United gerig. Dit is vinnig ná die nuus oor die uitstel gereël.

Hierdie wedstryd het groot belangstelling gewek omdat MU tot dusver korte mette met die meeste van hul teenstanders gemaak het. Die groot skare, veral van die “Paas”, het dit ook duidelik gemaak hulle het gekom om te wen.

MU, die tuisspan, het sommer vroeg die krane oopgedraai en Hope behoorlik onder druk geplaas, want Hope se spelers het gesukkel om momentum te kry.

Binne 10 minute het MU die tuisskare rede gegee om te jubel toe Rayloon Steenberg geskitter en Sandro Jaftha met ’n goed geplaaste skop uitoorlê het (1-0).

Dit het die spelers van Hope behoorlik wakker geskud, en veral die middelveld met Kelvin (Killer) Butland, Ridiwaan van Rooi en Fabian (Faba) Esterhuizen het beheer van die wedstryd begin neem. Dit het MU se spelers lelik laat bontstaan.

In die 15de minuut het Hope se doelvraat Jonathan Prins deur vyf van MU se spelers gedribbel en MU se doelwagter met ’n goed geplaaste skop gefnuik – dit nogal kort nadat hy teruggekom het op die veld nadat hy weens ruwe spel afgestuur is (1-1).

Vyf minute voor rustyd was dit Kelvin Butland wat sy pa se span, MU, se ondersteuners na hul asem laat snak het met Hope se tweede doel (1-2).

Dit was ook die rustydtelling.

Ná rustyd en met die wind nou in die blaaie het Hope se spelers hul kenmerkende kortaangee-styl uitgestal, wat later tot onnodige robuuste spel deur die tuisspan gelei het.

Kelvin het weer ’n pragtige aangee uit die middelveld ontvang, waarna hy twee verdedigers van MU geklop én ’n kanonskoot verby Gabain Mckenzie, MU se doelwagter, gestuur het. Dit het die telling na 1-3 gerek, wat later ook die eindtelling was.

Ná die wedstryd is Hope se twee spelers van die wedstryd, Fabian Esterhuizen en Kelvin Butland, deur die nuutgekose Mej. View of Hope, Anastasia Kouter, vereer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article