Twee vrouens is in die sop omdat hulle Media24 se tydskrifte, koerante, boeke of e-publikasies onwettig op Whats­App-groepe versprei het.

Credit: Lise Beyers

Twee vroue van Oudtshoorn sal eersdaags in die hof moet verduidelik hoekom hulle van Media24 se tydskrifte, koerante, boeke of e-publikasies op Whats­App-groepe versprei het.

Die mediagroep het die afgelope week hofstukke by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien en ook stukke laat beteken aan Christina Catharina Gorgens (Christa, 57) en Leanda van den Berg (56).

In die stukke vra Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24, die hof om ’n bevel uit te reik teen die twee vroue, wat onderskeidelik administrateurs van die “Koerante en Tydskrifte-Groep” op WhatsApp is, dat hulle die outeursregte wat aan Media24 behoort, geskend het toe hulle sonder die nodige of enige toestemming PDF-weergawes van die groep se koerante, tydskrifte, e-publikasies en tuiskoerante (gemeenskapskoerante) op die WhatsApp-groep versprei het.

Die groep doen ook aansoek om ’n interdik wat die vroue sal verbied om die outeursregte van enige van die publikasies in die hofstukke genoem te oortree, asook enige titel wat nog nie gepubliseer is nie en wat deur die mediagroep uitgegee word, op enige WhatsApp-groep te versprei.

Die interdik moet ook geld vir enige ander literêre en/of kunswerke in enige van die publikasies gelys in die stukke of in enige publikasie wat nog nie gepubliseer is nie.

Verder word gevra die twee vroue moet hul selfone waarop die WhatsApp-groepe bedryf is en wat gebruik is om Media24 se outeursregte te skend, binne 24 uur nadat die stukke aan hulle beteken is aan Media24 se prokureurs oorhandig.

Die vroue se selfone sal as bewysstukke in die hofgeding gebruik word.

Die hof word ook gevra om die twee vroue te beveel om die koste van die hofsaak te betaal, asook enige finansiële verliese wat Media24 gely het weens die outeursregte wat geskend is weens die onregmatige verspreiding van die publikasies. Dit sluit rente op die bedrae in.

Davidson sê Media24 het geen ander keuse gehad as om hom tot die hof te wend nie. Twee jaar van aktiewe bewusmaking en pleidooie aan die breë gemeenskap om die praktyk van onregmatige verspreiding van publikasies te staak omdat dit neerkom op diefstal, het op dowe ore geval.

“Mense het hulle net nie aan die veldtog gesteur nie. En dit laat ons met weinig tot geen keuse,” sê Davidson.

Hy sê mense is gewaarsku om dit te staak en dan sou hulle net die een WhatsApp-groep sluit om ’n volgende een te begin. “Die indruk wat ons gekry het, is dat hulle weet dit wat hulle doen is onwettig.”

Volgens Davidson is die plan geensins om die twee vroue in die verleentheid te stel nie. “Maar as die hofsaak nie die gewenste uitwerking het nie, weet ek regtig nie wat gaan werk nie.”

Hy sê mense is elke geleentheid gegun om die praktyk te staak en hy weet mense gaan nie daarvan hou om hul name in ’n negatiewe verband in die media te sien nie. Maar dit gaan vir hom nie net oor die voortbestaan van Media24 nie, maar oor die behoud van die mediabedryf in geheel.

“Dit gaan moeilik in die bedryf. Tydskrifte, koerante, almal sukkel om te oorleef. Koerante is besig om uit te sterf en ons sukkel aan die advertensiekant.

“En net sodra ons oorgaan na die digitale kant, word die inhoud gesteel.”

As hoof van ’n mediaorganisasie besef hy dit is onregverdig teenoor mense wat in die bedryf werk, wat elke dag lang ure insit om koerante en tydskrifte uit te gee en foto’s daarvoor te neem. “Dit gaan nie net oor Media24-personeel nie, maar oor almal in die mediabedryf.”

Davidson sê hy hoop die twee vroue gee gehoor aan die versoeke sonder dat hulle hof toe gaan.

“Ons versoeke is nie onredelik nie. Ons weet hulle is nie die enigste mense wat dit doen nie, maar ons moes iewers begin.”

Hy is vasbeslote om elke ander persoon wat voortgaan om die groep se outeursregte te skend aan te vat.

“Mense wat ons outeursregte skend, moet weet dat ons hulle dieselfde gaan behandel en dit nie daar gaan laat nie.”

Luidens die hofstukke het die ondersoek na die onregmatige verspreiding van Media24 se publikasies reeds meer as twee jaar gelede begin.

Die WhatsApp-groep waarvan Gorgens en Van den Berg twee van die administrateurs is, het in Desember vanjaar meer as 900 lede gehad.

Worcester Standard & Breederivier Gazette is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article