Die hooggeregshof in Pretoria het verlede week ’n hofbevel aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, toegestaan wat beveel het dat die staat binne 60 dae alle staatsfasiliteite, waaronder staatskole, van beurtkrag moet vrystel.
Hoewel dit as goeie nuus voorkom, moet Breedevalleiers immers nie té vinnig hande klap nie, omdat die beslissing dalk nie in werking gaan tree nie.
News24 het berig Gordhan sal appèl aanteken weens die feit dat die hofbevel ekstra spanning op die netwerk sal veroorsaak – iets wat Eskom nie kan hanteer nie.
Volgens die berig twyfel ekonome immers of die hofbevel enigsins sal realiseer omdat verskeie kere daarteen geappelleer kan word en dit selfs na die konstitusionele hof verwys kan word, wat maande kan neem.
Nog ’n rede vir die onuitvoerbaarheid van hierdie hofbevel is die departement van openbare ondernemings se beperkte vermoëns om krag of brandstof en kragopwekkers aan duisende staatsfasiliteite te voorsien weens die enorme koste daaraan verbonde.
Die hofuitspraak het verduidelik dat dit op Gordhan se skouers rus om alternatiewe kragtoevoer, soos kragopwekkers, aan staatsfasiliteite, waaronder staatskole, te verskaf waar dit nie moontlik is om geboue in ’n gebied van beurtkrag te isoleer nie.
Standard het na die Wes-Kaapse onderwysdepartement uitgereik om te hoor hoe die vrystelling van beurtkrag staatskole sal bevoordeel.
Volgens David Maynier, die minister van onderwys in die Wes-Kaap, is die onderwysdepartement bly oor die hofbevel, maar hy twyfel of dit wel ingestel kan word.
“Die sleutelfunksies wat deur beurtkrag geraak word, is administratiewe stelsels, bedryfsvereistes soos beligting en spyseniering, en die gebruik van e-leerhulpmiddels. Spesifieke vakke soos rekenaartoepassingstegnologie en inligtingstegnologie, tesame met beroeps- en praktiese vakke wat elektriese toevoer benodig, wat vlot kan verloop met die vrystelling van beurtkrag, word ook nadelig geraak,” het Maynier per e-pos verduidelik
.
“Die feit bly dat beurtkrag skole nog lank sal raak, en die departement het ’n kollektiewe poging nodig om skole meer energiebestand te maak,” het hy gesê.
Die departement het vanjaar R40 miljoen vir ononderbroke kragtoevoer, wat opwekkers en brandstof insluit, begroot.
Buiten die ligdiode-beligtingsprojek (LED) wat aangeneem is omdat dit minder krag gebruik, het die onderwysdepartement ook aansoeke van 50 staatskole ontvang om sonkragstelsels te installeer.
“Die departement sal voortgaan om skole te ondersteun om hierdie stappe te neem om hul energietoevoer te verseker. Die departement sal vanjaar self die installering van sonkrag-PV-stelsels by 10 skole onderneem, wat tot 60 kilowatt opwek, afhangende van die grootte van die skool en installasie,” het Maynier bygevoeg.




