AfriForum Jeug het onlangs in samewerking met AfriForum se afdeling vir jeugleierskap en ontwikkeling die eerste Toekomsskeppers-geleentheid in die Wes-Kaap aangebied. Hierdie geleentheid was daarop gemik om die nuutverkose gr. 11-leiers met spesifieke vaardighede toe te rus en hulle te bemoedig vir die leierskapstaak wat in 2025 voor hulle lê. Verskeie gassprekers het die leerders toegespreek en met vaardighede toegerus. Nege skole van oor die Wes-Kaap heen het aan die leierskapsgeleentheid deelgeneem – die Hoërskool Stellenberg, die Hoërskool Langenhoven, die Hoërskool DF Malan, die Hoërskool Stellenbosch, die Hoërskool Durbanville, die Hoërskool Jan van Riebeeck, die Hoërskool Porterville, die Hoërskool Parel Vallei asook HTS Drostdy.


Hui-Mari Meyer van die WIRED Flip the Switch-groep het by AfriForum Jeug se Toekomsskeppers-dag met die leerders oor verskillende temperamente gepraat en verduidelik hoe dit elke mens uniek maak.

Dr. Gillian Arendse, ’n beroemde eksperimentele kernfisikus, het die tweede sessie aangebied en vyf praktiese elemente van leierskap te bespreek. Dit het onder meer behels hoe ’n leier moet lei deur ’n voorbeeld te wees, visie moet hê en hoe belangrik dit is om ander te inspireer.

Volgens Tania Scheepers, die projekassistent vir onderwys by AfriForum, is dit belangrik dat kinders van jongs af leer dat almal unieke talente het wat hulle kan gebruik om waarde tot hul gemeenskappe te voeg.

“Leierskap begin by selfkennis en die bereidwilligheid om ander te dien. Ons is trots op hierdie jong leiers en sien daarna uit om te kyk hoe hulle ontwikkel en hulle op hul leierskapsreis te ondersteun.”

Die tema van die dag was “Watter tipe leier is jy?” Dit het die kern van leierskap ondersoek en die belangrikheid daarvan beklemtoon.

“Om jou unieke leierskapstyl te verstaan en te gebruik om ’n positiewe verskil te maak is baie belangrik. Ons by AfriForum Jeug is opgewonde om hierdie suksesvolle geleentheid weer volgende jaar aan te bied en voort te gaan om jong leiers vir die toekoms te bemagtig,” het Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se beampte vir ontwikkeling, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article