Agter van links is Justine Arnoldus (hoofmeisie), en Elbenico Lewis (hoofseun). Voor sit Senobia Burger en Tanya Irish. Al vier leerders is in matriek asook op die leerlingraad, en opgewonde oor die skool se splinternuwe landboutonnels.Foto’s: Jana Scheepers

Credit: SYSTEM

Hoërskool Goudini in Rawsonville het Dinsdag 23 Mei splinternuwe landbou­tonnels van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) ontvang.

Volgens Jaco Strydom, waarnemende hoof van Hoërskool Goudini, is hierdie tonnels by die skool opgerig as deel van die vak landboubestuur wat die gr. 10 tot 12-leerders sal bemagtig om praktiese vaardighede aan te leer.

Strydom het aan Standard verduidelik dat die projek reeds in 2019 deur die WKOD beplan is, wat die finansiering verskaf en die konstruksie bestuur het.

Die skool het toe ook uitgereik na die Wes-Kaapse departement van landbou wat die leerders sal bystaan om die projek ’n sukses te maak en raad sal verskaf oor hoe om die tonnels optimaal te benut.

“Rawsonville is ’n landboudorp en 90% van die skool se ouers is in die landbou-bedryf, so die skool wil die kinders bemagtig om nog meer oor landbou te leer,” volgens Strydom.

Dié entoesiastiese skoolhoof het verduidelik dat die skool twee landbou vakke aanbied.

In landbou-tegnologie leer leerders konstruksievaardighede aan, soos om te sweis.

In landboubestuur, die tweede landbouvak, word daar geleer word hoe om ’n plaas effektief te bestuur, deur onder meer projekte in die landboutonnels aan te pak.

Die WKOD het twee tonnels opgerig wat toegerus is met swart geute en besproeiing – en ’n sakkie grond met kunsmis.

Strydom het verduidelik die tonnels is hidroponies van aard, waar die water wat deur die tonnels loop in ’n tenk sal beland, wat dan gedeeltes van die skoolgronde kan toerus met water.

In een tonnel gaan die leerders ’n skaars brandrissie, ghost reapers, plant, en in die ander tonnel ’n groentetuin bestaande uit vele soorte groente, soos komkommer en tamaties.

“Die doel van die tonnels is ook om die rissies en groente te verkoop,” volgens Strydom.

Hy het verduidelik elke landbou-bestuur-leerder van gr. 10 tot 12 sal verantwoordelik wees vir ’n plant, wat insluit om dit aan die lewe te hou, te verpak, te verkoop en ’n verslag bymekaar te sit oor hoe hul “besigheid” groei toon en ’n wins maak.

Die ghost reaper-brandrissie se sade sal ook verkoop word sodat ander groenvingers dit kan oes in die gerief van hul eie tuin.

Hierdie projek sal dan ook deel van die gr. 10- tot 12-leerders se praktiese assesserings en take vorm en bydra tot hul algehele persentasie vir landboubestuur.

Volgens Strydom is daar altesaam 30 tot 40 landboubestuur-leerders wat by die projek sal baatvind.

Die projek het sowat R950 000 gekos om op te rig en die verantwoordelikheid berus nou by die Hoërskool Goudini om die tonnels in stand te hou. Dit sal gedoen word deur die groentesoorte te verkoop, en die plaaslike departement van landbou sal ook bystand verleen om te sorg dat die projek geld maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article