Die Nasionale Koopkrag-Koopbewys-identifisierings (KID) se opgraderingsprojek het ten doel om die sagteware van al Suid-Afrika se koopkragmeters voor die koopbewys-sperdatum van 24 November by te werk, want anders sal inwoners wie se koopkragmeters se sagteware nie teen daardie datum bygewerk is nie, nie meer werk nie.

Die nasionale koopkragmeterbedryf bestaan uit verskillende rolspelers, waaronder koopkragverskaffers, koop­krag­metervervaardigers, koopkragverko­pers en munisipaliteite.

In die koopkragbedryf is die munisipa­liteit slegs verantwoordelik vir die instandhouding van die koopkragmeter; inspeksies van die geïnstalleerde koop­kragmeter, implementering van maatreëls om te verhoed dat koopkragmeters omseil word, en die bywerk van ’n koopkrag­meter met ’n “next-vend”-koopbewys.

Van Breedevallei se totale getal van22 433 aktiewe koopkragmeters is 96% reeds bygewerk.

In teenstelling met ander munisipali­teite was die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gelukkig reeds jare terug al vroeg uit die blokke met die bywerk van koopkragbok­se se sagteware en die elektrisiteitsaf­deling het gelukkig nog genoeg tyd om voor 24 November by die oorblywende 4% van uitsonderings­gevalle, waarvan die sagteware nog bygewerk moet word,uit te kom. Baie inwoners sal onthou dat daar ’n geruime tyd gelede herhaaldelik amptenare en/of kontrakteurspanne uitgekom het om hul koopkragbokse te ondersoek en die sagteware by te werk deur ’n kode in die boks in te tik.

Indien jou koopkragboks se sagteware nog nie bygewerk is nie, sou jy in Maart vanjaar ’n sekere soort koopbewys, die sogenaamde next-vend token-koopbewys, op jou kwitansie of SMS gekry het as jy jou koopkragaankope gedoen het.

In die geval van ’n gewone koopkrag­meter gaan die next-vend token-koopbewys uit ’n kode van drie reëltjies met 40 syfers bestaan wat jy moes gaan intik.

In die geval van ’n deerniskoopkrag­meter bestaan die next-vend token-koopbewys uit vier reëltjies van kodes wat die deernisaansoeker moes gaan intik. In sulke gevalle moes jy die eerste kode intik, dan ’n paar sekondes wag, dan die tweede kode intik, dan ’n paar sekondes wag, dan die derde kode intik, dan ’n paar sekondes wag, en dan die vierde kode (in die geval van ’n deernisaansoeker) intik.

Indien daar dus die afgelope paar maande ’n amptenaar/verteenwoordiger van ’n koopkragkontrakteur na jou koopkragmeter kom kyk het en die sagteware bygewerk het deur ’n kode in te tik, of as jy self ’n next-vend-token-nommer bestaande uit drie of vier reëltjies nommers saam met een van jou vorige koopkragaankope gekry het en jy self daardie kodes op jou koopkragmeter ingepons het, dan is jou koopkragmeter in orde en bygewerk.

Wanneer jy dus koopkrag koop en net jou gewone koopbewys-nommer kry, dan is jou koopkragmeter reeds bygewerk, want anders sou jy nog die verdere drie of vier reëltjies van die next-vend token se kodes saam met jou koopbewys ontvang het, wat jy sou moes inpons.

Die oorblywende 4% van koopkrag­meters wat nog uitstaande is, is uitsonderingsgevalle waar daar afwykings van die databank of foutiewe installasies is. Die elektrisiteitsafdeling het ’n lys van hierdie spesifieke adresse en is tans nog besig om net na hierdie spesifieke adresse op die lys te gaan om die nodige sagteware te gaan bywerk.

Indien mense sukkel om hul next vend token-nommer in te pons of gemoedsrus wil hê dat hul koopkragmeter wel bygewerk is, moet hulle hul koopkragmeternommer neerskryf en dan is hulle welkom om die 24-uur-BVM-inbelsentrum by 0860 12 12 12 of ssc@bvm.gov.za te kontak. Anders kan hulle ook die BVM-elektrisiteitsafdeling by 023 348 8000 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article