Enige veranderinge aan die besonderhede van ’n voertuigeienaar of -titelhouer moet binne 21 dae aan die toepaslike registrasie-owerheid gekommunikeer word.
Hiervoor gebruik jy die NCP-vorm. Wanneer jy jou voertuig verkoop, moet jy jou registrasie-owerheid by wyse van ’n NCO-vorm in kennis stel en die nuwe eienaar moet die voertuig in sy/haar naam registreer.
Wat om te doen:
Gaan na jou naaste registrasie-owerheid.
Indien jy jou adres verander, moet jy die volgende saamneem – ’n afskrif van jou identiteitsdokument as jy ’n Suid-Afrikaanse burger is; bewys van woonadres, soos ’n diensterekening; as die diensterekening nie in jou naam is nie, moet die eienaar ’n beëdigde verklaring aflê waarin hy verklaar dat jy by dié adres woon. Heg die diensterekening aan die verklaring. Indien jy in ’n informele nedersetting woon, bring ’n brief van die wyksraadslid wat jou woonadres bevestig.
Indien jy ’n Suid-Afrikaanse burger is, moet jy net die vorm NCP invul en indien. As jy ’n buitelandse burger is, moet jy die vorms NCP en ANR indien..
Indien jy die voertuig verkoop, moet die verkoper die NCO-vorm voltooi en by die registrasie-owerheid indien.. Die verkoper moet die registrasiesertifikaat aan die koper oorhandig:
- Die koper moet die aansoekvorm om registrasie en lisensiëring van ’n motorvoertuig voltooi en indien.
- Die koper moet die voertuig se registrasiesertifikaat indien as die voertuig in Suid-Afrika geregistreer was.
- Verskaf ’n massa-berekening-sertifikaat as die voertuig se gewig verander is.
- Die koper van die voertuig moet die vorms by die registrasie-owerheid inhandig binne 21 dae na aankoop van die voertuig, saam met die registrasievorm wat van die verkoper verkry is, en die huidige padwaardigheidsertifikaat. (Dit is die eienaar se verantwoordelikheid om te verseker dat die voertuig padwaardig is.)
- Indien die voertuig in die naam van ’n maatskappy geregistreer is, moet jy ook ’n sertifikaat van inlywing of naamsverandering indien soos uitgereik ingevolge die Wet op Maatskappye.. Die registrasie-owerheid sal jou aansoek assesseer en jy moet die fooie soos voorgeskryf betaal.
- Indien die registrasie-owerheid dit vereis, moet jy bewys lewer van jou reg om as titelhouer van die betrokke voertuig geregistreer te word. Sodanige bewys kan onder meer ’n faktuur of verkoopsooreenkoms wees. Indien jy nie so ’n bewys het nie, skakel die naaste oproepsentrum of registrasie-owerheid om vas te stel watter dokumente hulle sal aanvaar.




