Die stoomsleepskip Alwyn Vintcent verwelkom besoekers nou in die binneland – in Villiersdorp. Ná ’n reënbui staan sy soos Noag se Ark in haar nuwe tuiste.Foto: Johan Olivier


Villiersdorpers het vroeër vanjaar met verwondering toegekyk hoe die stoomsleeptuig Alwyn Vintcent die dorp invaar.

Dit volg nadat dié skip ’n 408 km lange reis van die Kaapstad-hawe meegemaak het. Dit was egter nie te danke aan die winter se oorstromings nie. Die konvooi moes ’n langer roete volg as normaal – sowat vier keer die gewone afstand – omdat die vrag op die 88-wiel-sleepwa wat die skip vervoer het, so hoog was. Die hele kombinasie, insluitend die trek- en stootvoertuie, was 47 m lank.

Die sleepwa is oor die laaste paar kilometer deur ’n stoet veteraanmotors en trekkers wat toeters geblaas het, vergesel, terwyl geesdriftige skares en luide kerkklokke die vaartuig verwelkom het.

Die historiese sleeptuig is amper twee jaar gelede deur die Villiersdorp-tak van die Wes-Kaapse Trekker- en Enjin-klub gekoop om haar van sloping te red.

Die Alwyn Vintcent is in 1957 in Venesië vir die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens-administrasie gebou en het 24 jaar lank in die Mosselbaai-hawe gedien. Sy het ligter vragte na en van posskepe gesleep wat te groot was om die hawe binne te gaan. Haar lang agterdek is spesiaal ontwerp om passasiers in ’n mandjie tussen vaartuie oor te plaas.

Die Alwyn Vintcent het laas in 1994 met stoom gewerk en was die laaste stoomvaartuig op die Suid-Afrikaanse skeepsregister. Ná haar uitdiensstelling is sy al sewe keer van sloping gered.

Haar aankoms in Villiersdorp lui die begin van ’n nuwe fase in haar loopbaan in. Sy sal tot haar volle stoomvermoë herstel word om moontlik af en toe op droë grond in aksie te wees.

Ook blaas die stoomskip as groot toeriste-aantrekking nuwe lewe in Villiersdorp.

Die Alwyn Vintcent-padstal pronk reeds met sy heerlike versnaperings en dit is nie onmoontlik dat die stoomskip in die nabye toekoms hotelverblyf sal aanbied nie.

Villiersdorp kan met die Alwyn Vintcent gou meer besoekers verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article