’n Historiese gebou in Worcester se middedorp is Donderdagaand (25 April) in puin gelê.
Volgens ’n mediaverklaring wat deur die Breedevallei-munisipaliteit uitgereik was, het die inbelsentrum om 19:15 ’n oproep rakende die brand ontvang.
“Op 25 April, omstreeks 19:15, het ons inbelsentrum ’n kennisgewing ontvang van ’n brand by ’n enkele stoorfasiliteit in Baringstraat, Worcester. ’n Brandreddingspan het ’n rukkie later opgedaag, en die brand is uiteindelik onder beheer gebring. Geen ongevalle is aangemeld nie, en die oorsaak van die brand is nog onbekend.” lui die verklaring wat Vrydag uitgereik was.
Inwoners van twee nabygeleë woonstelle is ontruim en tydelike verblyf aangebied net ingeval die brand sou versprei en verdere verwoesting saai. Die gebou sal egter eers deeglik ondersoek word voor die inwoners terug kan keer.
“Die bewoners van die twee woonstelle aangrensend aan die fasiliteit is ontruim en in ’n nabygeleë hotel gehuisves. Die gebou se mure kon moontlik ineenstort as gevolg van die brand se impak. Voordat bewoners egter na die gebou terugbesorg word, sal ’n deeglike ondersoek gedoen word om die veiligheid van die bewoners te waarborg.”
Volgens verklaring uitgereik deur raadslid Julian Kritzinger is die gebrou wat gebrand ’n ou skuur wat in die 1890’s gebou was.
“Aan die agterkant van die Doves-gebou staan ’n ou historiese skuur wat van die 1890’s dateer wat aan die brand geslaan het. Die skuur was nie bewoon nie, en was net vir stoor- en bergingsdoeleindes gebruik. Hierdie ou skuur staan reg in die middel van die blok tussen Kerk-, Stockenstrom-, Baring- en Tulbaghstraat. Hierdie ou skuur grens aan die Baringstraat-kant aan Baring Street Mews-woonstelle; en aan die Tulbaghstraat-kant aan die agterkant van die Ultra Liquors Express-drankwinkel langs die Cumberland Hotel; en aan die Kerkstraat-kant grens dit aan die parkeerarea aan die agterkant van Die Soekertjie se kantore.”
Die munisipaliteit se verklaring het verduidelik brandweerspanne sal op die toneel bly om die situasie te monitor.
“Brandreddingspan sal teenwoordig bly totdat anders geag word. Enige verdere inligting met betrekking tot die voorval sal gekommunikeer word.”
Niemand is tydens die voorval beseer nie.




