Wolseley-rugbyklub se getroue ondersteuners moes Saterdag in yskoue weersomstandighede aanskou hoe hul gunstelingspan op skouspelagtige wyse deur die avontuurlustige Hillcrest United tot oorgawe gedwing word in ’n Witsentraalstreek Grootuitdaag-ligawedstryd.
Hillcrest, wat teen rustyd ’n voorsprong van 17-10 opgebou het, het die aksiebelaaide wedstryd met 39-16 gewen. Dié uitslag was ’n getroue weergawe van die dag se spel, met Hillcrest wat al sy kanse benut het.
Wolseley daarteenoor kon mekaar nie lekker vind nie. Voorlangs, waar sake se rigting gewoonlik bepaal word, het Wolseley hom uitstekend van sy taak gekwyt en veral in die skrums meters met Hillcrest se pak geloop. In die lynstane, met die wind wat veral in die tweede helfte in sterkte toegeneem het, het hy hom van goudwerd-balbesit verseker.
Die verskil was egter Hillcrest se vernuf agterlangs en die spoed waarmee hulle aangeval het, wat Wolseley in wanorde gelaat het.
Met Wolseley wat duidelik gesukkel het om sy voete te vind was dit Hillcrest wat daglig op die telbord gesien het met drie uitstekende drieë in die eerste helfte deur Gilton Mangano, Adriano Skermand en Trevino Pietersen. Slegs een van dié drieë is deur Renaldo Young verdoel, om Hillcrest in ’n stadium met 17-3 te laat voorloop.
’n Drie deur die Wolseley-skrumskakel, Brandon Williams, kort voor rustyd, verdoel deur Henrico Maurice – asook ’n strafdoel vroeër in die wedstryd – het Wolseley teen rustyd beter laat asemhaal met die telling op 10-17.
Die tweede helfte het op die belowende noot waarop Wolseley gehoop het, afgeskop. Twee netjiese strafdoele wind-in deur Maurice het Wolseley tot een punt van Hillcrest gebring, met die telling 16-17.
Dit was egter van toe af dat paniek in Wolseley se spel begin posvat het. Die tuisspan het strafskoppe begin afstaan totdat Hillcrest binne trefafstand was, met Young wat Hillcrest se voorsprong vergroot het tot 16-20 met ’n netjiese strafdoel.
Nog ’n drie deur Pietersen (sy tweede van die wedstryd) en een deur Marcell Afrika – toe hy ’n wilde aangee deur Wolseley onderskep en byna 60 meter genael het tot onder die pale – verdoel deur Young, het Wolseley skouspelagtig van die berg laat aftuimel.
Ander uitslae van die dag:
Wolseley B 10-25 Hillcrest B
Wolseley C 9-17 Hillcrest C
V Dit was die einde van die eerste ronde vir Wolseley en Hillcrest met net Tulbagh, Temperance, Newtons en Evergreens Paarl wat nog een wedstryd elk oor het.
Die tweede ronde skop amptelik op 23 Julie af.

