–Volg van bladsy 1.
’n Plaaslike onderneming, wat sakeondernemings met grafiese ontwerpe en produkte bystaan, en verkies om nie sy naam te noem nie, het aan Standard gesê hulle gaan erg onder beurtkrag gebuk.
Hulle het nie kragopwekkers nie en voorspel hierdie jaar gaan ’n maak-of-breek-jaar wees.
“Ons het in die afgelope jaar meer beurtkrag gehad as wat ons krag gehad het. Ons is nog nie eens ’n maand in die nuwe jaar in nie en ons sit permanent sonder krag. Ons verskaffers is agter, ons beplanning word by die deur uitgegooi en ons word gedwing om ná ure te werk, en ek moet my werkers betaal. Opwekkers sal maandeliks minstens R40 000 ekstra kos. Hoe moet ons oorleef?”
Kommer heers ook in die landboubedryf oor prosesse wat weens beurtkrag agter raak. As dieselpryse ver bo R20 per liter draai, raak dit vir talle boere en bestaansboere moeilik om kop bo water te hou.
Standard het inwoners en volgelinge op sosiale media vir hul opinie gevra oor Nersa se besluit om die tariewe te verhoog. Dit is wat inwoners te sê het:. “Ons moet meer betaal, maar (ons) het omtrent nooit krag nie?” – Elize van Rooyen. “Die munisipaliteit word ook erg benadeel hierdeur en hulle moet die las dra.” – Dana du Plessis. “Ons is gefaal. Ons is besig om ’n punt te bereik van waar ons nooit sal kan terugkeer nie. Die rykes gaan emigreer en die res gaan wroeg. Cry, my beloved country.” – Tersius Strijdom


