’n Oumagrootjie van Hexpark in Worcester, wat nog nooit ’n bevalling behartig het en geen benul het van wat die korrekte prosedures behels nie, is ’n heldin nadat sy Paas-Sondag aan die diep kant ingegooi is en met groot drama haar agterkleinkind in die lewe help bring het.
Die vier dae oue Luke Peters en sy mamma, Allison (22), is blakend gesond en is ná ’n mediese ondersoek in die hospitaal weer terug by die huis.
Luke is sy oumagrootjie, Linda Keiland (64), se tiende agterkleinkind.
’n Verligte Linda het dié week aan Standard vertel haar swanger kleinkind, Allison, het Sondag heeldag gekla van ligte pyne.
Linda sê omstreeks 19:00 – kort nadat Allison haar gewas het – het die pyne erger geraak. Volgens Linda het alles in ’n oogwink gebeur, want kort hierna het Allison se water gebreek.
Linda sê hoewel sy op daardie tydstip oorval was deur paniek, stres, ’n kloppende hoofpyn en boonop baie gebewe het, kon sy daarin slaag om haar kleinkind te kalmeer en gemaklik te maak.
Sy bevestig haar moederlike instinkte het summier ingeskop.
Volgens Linda was Allison histeries en Linda het haar aanhoudend aangesê om diep asem te haal. Linda sê die ambulans is onmiddellik ontbied.
Die res van die huismense was so oorweldig deur die bevalling dat hulle sommer die hasepad gekies het.
Linda sê ten spyte van haar paniek en stres moes sy kalm bly vir haar kleindogter se onthalwe – veral toe sy gil ‘Ouma, ek kan nie meer nie!’.
Die oumagrootjie sê die stres en paniek is verder aangeblaas deur die feit dat Allison se slaapkamer ten tyde van die bevalling oortrek was met bloed.
Sy sê toe kom die volgende gil: “Ouma, hier kom die kop!”
“Toe die kop uitkom . . . oe, toe lyk dit vir my die kop sit vas, en ek sê druk, druk, druk!”
Linda sê sy het Luke aan albei skouertjies gevat en hom verder uitgehelp.
Sy sê toe sy Luke eers in haar arms hou, het sy sommer van alles tot kamerjaponne gegryp om hom toe te draai. Volgens Linda het sy tevergeefs probeer om die nageboorte te verwyder.
“Daai kindjie het so gehuil dat ek sê ‘hoor hoe stout is dié kind’. Daai kindjie is pragtig.”
Sy sê nooddiens-personeel het kort ná hul aankoms – sowat 45 minute later – die naelstring wat om klein Luke se nek gehang het, geknip en die nageboorte verwyder.
Linda sê toe Allison en Luke weg is hospitaal toe, toe vra sy: “Gee net vir my pynpille.”
Volgens haar was dit die eerste keer dat sy tot bedaring gekom het.
Volgens Linda het mediese personeel vroeër aan Allison gesê klein Luke sou eers aan die einde van April gebore word. Toe is dit weer einde Mei.
“Ek is net bly hulle is gesond. Ek voel trots op wat ek gedoen het. Ek is net bly ek kon haar help.
“Ek was mos nog nooit by so iets betrokke nie, maar nou kan ek ook darem praat daaroor. Ek is ’n trotse oumagrootjie.”
Met ’n trotse glimlag op haar gesig sê Linda dat Luke ook eendag sal kan sê: “My oumagrootjie het my gevang.”





