’n Man (28) van die Nuy-vallei buite Worcester is die afgelope Vrydag op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hy vroeër in hegtenis geneem is weens klagtes wat verband hou met die handel in dwelms en die bestuur van ’n hidroponiese laboratorium.
AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, sê die man is aangekeer nadat die publiek die polisie ingelig het van vermoedelike dwelm-aktiwiteite op ’n plaas in die Nuy-vallei.
Die Valke se SA Narkotiese Wetstoepassingsburo (Saneb) in samewerking met die polisie en die Wynland-distrik het ’n ondersoek van stapel gestuur en op 232 daggabome op die plaas asook ’n volledige hidroponiese laboratorium afgekom.
Die saak is tot 5 Mei vir nadere ondersoek uitgestel.



