Die Hex River Battery Energy Storage System (HEX BESS)-battery is steeds goed op dreef, alhoewel die installasie daarvan effens vertraag is.

Volgens die aanvanklike beplanning sou dié battery in Augustus of September vanjaar aan die nasionale kragnetwerk gekoppel word.

Volgens die konstruksiebestuurder van die projek is hulle egter steeds besig met die hot commissioning van die battery.

Hierdie is ’n tegniese begrip vir ingebruiknemingstoetse, wat beteken hulle is tans besig met ’n voorafgaande toetsfase ten einde seker te maak die battery funksioneer ten beste wanneer dit uiteindelik aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel word.

Die battery is dus nog nie aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel nie en die jongste aanduiding is dat dit eers teen November vanjaar sal plaasvind.

Volgens die konstruksiebestuurder word goeie vordering met die voorafgaande toetse gemaak, maar daar is ook nog verdere toetse wat gedoen sal moet word, alvorens hulle klaar is met die ingebruiknemingstoetsfase.

Dié massiewe battery se kapasiteit is 20 MW per uur vir vyf ure (m.a.w. 100 MW).

Wat is die impak van HEX BESS-Battery vir die Breedevallei?

Die Breedevallei sal steeds beurtkrag hê wanneer die battery aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk gekoppel is.

Die energie wat op die HEX-BESS-battery gestoor word, sal buite spitstyd op Eskom se nasionale elektrisiteits­netwerk teruggestoot word.

Die HEX-BESS-battery sal dus een van verskeie Eskom-batterye wees wat sal help dat die nasionale elektrisiteitsnetwerk na laer fases van beurtkrag kan beweeg.

Bostaande foto wys hoe die HEX-BESS-battery buite Worcester lyk. Dit is aan die agterkant van HexTex-perseel geleë.

Vergelyking met Menslike Bloedstelsel

Die beste vergelyking om die werking van dié battery te beskryf is om dit met die mens se bloedstelsel te vergelyk. Wanneer jy bloed tot jou bloedstelsel byvoeg, gaan daardie bloed oral in jou liggaam. Dit is ook die geval met gestoorde energie wat tot die nasionale elektrisiteitsnetwerk toegevoeg word.

Op soortgelyke wyse sal die verskillende nuwe Eskom-batterye dus help dat die nasionale elektrisiteitsnetwerk na laer fases van beurtkrag kan beweeg.

Dit beteken egter nie dat sekere gebiede of dorpe waar daar batterye is, beurtkrag sal vryspring nie.

Die HEX-BESS-battery sal dus net indirek die Breedevallei baat, wanneer dit en die ander Eskom-batterye sal meehelp om die nasionale elektrisiteitsnetwerk na laer fases van beurtkrag te laat beweeg.

Hierdie skrale vooruitsig bied ’n mate van spreekwoordelike lig aan die einde van ’n baie, baie donker tonnel nadat Eskom verlede week weer gewaarsku het dat elektrisiteitsverbruikers hul elektrisiteitsverbruik moet besnoei, anders staar die instelling van fase 7 en 8-beurtkrag Suid-Afrika in die gesig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article