Die Breedevallei-munisipaliteit se herwinningsaanleg is steeds stukkend nadat dit deur vandale geteiken is.
Die volgende boodskap is op 23 April op sosialemediaplatforms gedeel: “Die MRF (Herwinningsfasiliteit) is gevandaliseer, wat beteken dit kan nie herwonne materiaal verwerk totdat die skade herstel is nie. Intussen word die materiaal na Beirowplus gestuur vir verdere verwerking. Inwoners word dus versoek om steeds aan te hou herwin aangesien die materiaal wel verwerk sal word.”
Volgens die munisipaliteit is elektriese bedrading gesteel en gevandaliseer tydens ’n inbraak by die aanleg.
“Herwinbare items kan nie by die MRF verwerk word nie weens die gesteelde en gevandaliseerde elektriese bedrading. Lede van die publiek word aangeraai om voort te gaan met herwinningsinisiatiewe aangesien herwinbare goed in die tussentyd na ’n private instansie gekanaliseer word,” verduidelik Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die BVM.
Die munisipaliteit is tans besig om kwotasies vir die herstel van die bedrading te soek.
Die verwagte koste vir hierdie werk is R30 000.
Oor die algemeen het vandalisme ’n negatiewe uitwerking op hoe die munisipaliteit sy onderskeie dienste kan lewer.
“Vandalisme het ’n nadelige uitwerking op ons diensinfrastruktuur, wat die nuttige lewensduur en diensvermoë van die toepaslike infrastruktuur en bates nadelig beïnvloed. Byvoorbeeld, vreemde voorwerpe soos klippe en selfs wasmasjiene wat in ons rioolnetwerke beland, kan onmiddellike rioolstortings binne ’n spesifieke gebied en aangrensende punte reg deur die netwerk veroorsaak. Boonop kan dit die gepaardgaande pypleidings onherstelbaar beskadig en volledige vervanging van infrastruktuur noodsaak, en sodoende die frekwensie van rioolstortings oor ’n langer tydperk en potensieel breër gebied vererger.”
Dus vra die munisipaliteit dat inwoners probleme en vandalisme summier aanmeld.
“Gevolglik herhaal ons die belangrikheid daarvan om kollektiewe eienaarskap te neem van bates en infrastruktuur wat ontwikkel is om in ons basiese behoeftes te voorsien. Verder bly die aanmelding van dade van diefstal en vandalisme en die proaktiewe voorkoming van sulke voorvalle in ons munisipale gebied noodsaaklik. Sonder hierdie basiese aksies loop ons die risiko van gereelde diensonderbrekings en verwante uitdagings.”
Diefstal en vandalisme is nie iets waarvoor die munisipaliteit kan begroot nie omdat die kostes nie hiervoor vasgestel kan word nie.
“Die BVM begroot nie uitsluitlik vir voorvalle wat met diefstal en vandalisme verband hou nie, aangesien die verwagte uitgawes verbonde aan sulke gevalle nie akkuraat of rasioneel voorspel kan word nie.
“As gevolg hiervan het BVM nie ’n eksklusiewe uitgaweportefeulje wat toegewy is aan diefstal en vandalisme nie. Ons begroot jaarliks vir die herstel en instandhouding van infrastruktuur en bates, wat uitgawes kan insluit om onder meer diefstal en vandalisme die hoof te bied.
“Aan die einde van kwartaal 3 (31 Maart 2024) het ons aangetekende uitgawes aan herstelwerk en instandhouding op R53 509 537 gestaan van ’n begroting van R87 432 946 – gelykstaande aan 61, 20% – wat teen 31 Maart 2024 bestee is,” het Botha verduidelik.



