’n Paartjie is diep omgekrap omdat ’n raadslid na bewering werk aan ’n groep inwoners belowe het, en toe blykbaar nie die belofte nagekom het nie.

Volgens Mervin Hermanus en Christa Plaaitjies is ’n groep inwoners van Hexpark werkskontrakte beloof indien hulle eers vrywillig werk.

Standard het probeer kontak maak met die ander inwoners wat na bewering ook vrywillig gewerk het, maar hulle wou nie praat nie.

Plaatjies beweer die Breedevallei Onafhanklik (BO) -raadslid in Wyk 10, Margaret Swartz, het haar genader en gesê hulle moet ’n groep mense kry om vrywillig te werk en dat die werkers uiteindelik werkskontrakte by die uitgebreide openbare werke-program (algemeen bekend as EPWP) sou kry.

Sy vertel sy het besluit sy gaan die hitte en haar siektetoestand trotseer om vrywillig te werk sodat sy in aanmerking kon kom vir ’n kontrak. Plaaitjies sê sy ly aan TB, maar selfs dit kon haar nie keer nie omdat ’n werk en ’n inkomste belangrik is.

Plaatjies sê toe 1 Maart aanbreek, het hulle geen kontrakte gekry nie.

“Hulle kon ten minste ’n geskenkpak vir elkeen gee vir hul harde werk vir daardie week. Die raadslid het hoop vir ons geskep en dit is wat my ontstel. Ons was sewe wat van 22 Februarie tot 28 Februarie vrywillig gewerk het. Toe ons besef ons gaan nie die kontrakte kry nie, het vyf van ons dadelik opgehou met werk,” verduidelik Plaatjies.

Hermanus sê hy is kwaad omdat sy vrou in haar siektetoestand gewerk het omdat sy geglo het sy sou ’n werks­kontrak kry.

“Hulle moes in die eerste plek mense laat weet het dat daar nie kontrakte gaan wees nie en dat jou naam eers in ’n databank moet wees voordat jy in aanmerking kan kom vir werk as deel van die program.”

Hermanus sê dit moet verder gevat word. Hy het die speaker van die munisipaliteit in kennis gestel oor die situasie. Hy sê hy het reeds beëdigde verklarings by die BVM ingedien oor die raadslid se aksies. Wat sê die BO?

Volgens ’n woordvoerder van die party is die bewering vals omdat geen raadslid werk kan belowe nie.

“Alhoewel raadslid Swartz ’n nuwe raadslid is, het sy in die verlede self onder die EPWP werk gekry, sy verstaan dus die stelsel. Swartz het in 2006 haar eerste EPWP-kontrak ontvang as algemene werker reiniging en paaie. Daarna is die kontrak verleng en is sy deur die EPWP by Nekkies aangestel.”

Die BO sê die bewerings is niks anders as ’n poging om raadslid Swartz se goeie naam swak te maak en haar in die openbaar te verneder nie.

Die party voeg by die vrywillige skoonmaakprojek in wyk 10 se Roodewal-woonstelle en in Hexpark is ’n baie belangrike inisiatief om die gemeenskap en die omstandighede waarin hul lewe te help verbeter, asook om eienaarskap van hul probleme te neem.

“Waar positiewe veranderings plaasvind sal daar altyd “suur druiwe” wees, veral in politiek, en die mense wat so klagtes teen die BO-raadslede indien is almal betrokke by politieke partye wat in die onlangse verkiesing verloor het.”

Die BO wil mense aanmoedig om deel te raak van enige projekte wat uit die gemeenskap en vir die gemeenskap bestem is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article