’n Voorbeeld van die kis wat Avaril Boer vir sy ma uitgekies het, maar nie gekry het nie.

Credit: SYSTEM

’n Worcesterse man is omgekrap omdat ’n begrafnisondernemer glo op die dag van sy ma se begrafnis met ’n ander kis as wat bespreek is, opgedaag het.

Avaril Boer sê hy was baie verbaas toe die lyk van sy ma in ’n heel ander kis opgedaag het.

“Dinge was ’n bietjie gespanne,” vertel hy.

Sy ma het in Wolseley gebly en hulle het ’n ondernemer in Tulbagh besoek om reëlings vir haar teraardebestelling te tref.

“En van my groot wense was nog altyd om vir my ma ’n ordentlike begrafnis te gee. Toe ons by Tulbagh Begrafnisdienste kom, het ons met Anneline Farmer gepraat oor die soort kis wat ons wou hê en sy het toe ’n aanbeveling gemaak. Maar op die dag van die begrafnis was my ma se liggaam nie in die kis waarop ons ooreengekom het nie. Dit was duidelik ’n goedkoper kis,” verduidelik Boer.

Volgens hom het hy die saak ná die tyd met Farmer opgeneem en het sy glo die fout erken.

“Sy het gesê sy verstaan hulle het ’n fout gemaak en dat ons dinge moet bespreek en dat die res van my geld teruggegee sal word. In ’n later stadium het sy besluit om nie my geld terug te gee nie. Ek het ook ’n saak by die hof vir kleineise gaan indien.”

Farmer, die eienaar van die begrafnisdienste, meen sy het die ekstra myl vir die bedroefde gesin gestap. Sy sê ook die kis wat op die begrafnis gebruik is, duurder was as die een wat hulle vroeër uitgekies het.

“Aangesien sy ma in ’n redelik gevorderde leeftyd was en ek ons ouer garde beskou as legendes van die gemeenskap waarin hulle gewoon het, het ek dit goed gedink om ’n wit kis met ’n brons randafwerking en brons handvatsels te gee. Ek moet ook net byvoeg dat dit wel ’n baie duurder kis was as wat mnr. Boer aanvanklik vir sy ma wou gehad het. Die lykswabestuur­der het genoem dat daar geensins ’n negatiewe of ontevrede uitlating deur mnr. Boer oor die kis gemaak is nie,” verduidelik Farmer.

Sy verduidelik ook sy het besef dat sy niks aan ’n gedane saak kon doen nie, maar dat sy bereid was om Boer te vergoed.

“Hy het my met regstappe en ’n mediaverklaring gedreig. Ek het aan hom genoem indien dit is wat hy wil doen, kan ek niks daaraan doen nie, maar dat ek ook regshulp sal inwin en op grond van my stawende feite en inligting die saak verder sal voer. Ons kon nie tot ’n skikking kom nie en mnr. Boer het voortgegaan om Tulbagh Begrafnisdienste aan die hof vir kleineise oor te gee.”

Verder sê sy dit was geensins haar bedoeling om enige onplesierigheid te veroorsaak nie.

“Wat my dus baie dwars in die krop steek, is die feit dat ek myself tekort- gedoen het om, wat ek gedink het iets moois sou wees, vir ’n bekende aan te bied, maar ek is vir ’n leuenaar en skelm uitgekryt, dalk nie in direkte woorde nie, maar dit is indirek so gestel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article