Uitblinkers Charl Koen, Lourista de Jongh, Jurie Groenewald en Jacques van Graan.


Brandvlei-hengelklub se hengelaars moes die afgelope Saterdag baie seisoene hanteer tydens hul klubkompetisie by Paarldam.

Nie net was dit koud nie, maar die wind was by tye sterk met reën tussenin en ook ’n bietjie sonskyn nou en dan.

Boonop is die dam goed vol en moes daar tussen 85 m en 120 m gehengel word. Dit is dan seker ook hoekom relatief min hengelaars opgedaag het.

Nogtans is 168 kg karpe geland, geweeg en versigtig teruggeplaas. Hiervan het Jurie Groenewald 30 en Jacques van Graan 26 gevang. Laasgenoemde se visse was egter swaarder as die van Groene­wald en het aan hom ’n algeheel eerste plek besorg, met Charl Koen tweede en Groenewald in die derde plek. Groenewald se karp van 3,5 kg was die swaarste van die dag. Soos alombekend is die ou snorbaarde (babers) onaktief in die koue waters en het dan ook nie een van hulle ’n aas kom optel nie.

Lourista de Jongh was die wenner in die vroueafdeling. Sy is besig om die man­ne kwaai opdraand te gee met konstante goeie vangste. Sy is ook tans die algehele voorloper in die vroue­afdeling. Danie Wilmot het die meestersafdeling gewen. Tans is Jurie Groenewald die voorloper in die meestersafdeling en Jaco Bothma die voorloper in die veterane-afdeling, waar hy deur Wilmot gevolg word.

Met nog vier kompetisies in die seisoen oor, is daar min punteverskil tussen die voorlopers op die algehele puntetabel en kan nog enigiets gebeur. Groenewald is tans ’n kortkop voor met Kobus Kriel en Charl Koen op sy hakke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article