Van links is Tiaan Coetzee, Danie Wilmot, Johan Coetzee, Jacques van Graan en Megan van Graan.Foto: Peppie van Tonder

Credit: SYSTEM

Die Brandvlei-hengelklub se eerste kompetisie van 2023 is Saterdag (21 Januarie) in die Paarl-dam gehou, waar die vis gewillig was om aas te vat.

Die dag het aan Jacques van Graan behoort wat as die algehele wenner asook die wenner van die B-sone én die wenner van die meestersafdeling gekroon is.

Sy 35 visse het altesaam 56,13 kilogram geweeg, en het twee tamaai babers ingesluit, waarvan die swaarste ’n stewige 9,4 kilogram geweeg het.

Jacques het ook die swaarste karp (5,4 kilogram) gevang.

Sy dogter, Megan, het ook goed presteer en 19 visse met ’n gesamentlike gewig van 24,47 kilogram uitgetrek.

Megan was derde in haar sone asook die kampioen in die vroue-afdeling vir die dag.

Die groot verrassing was dié van die penkop Tiaan Coetzee, wat die ouer garde behoorlik op hul plek gesit het met sy 23 visse van 26,41 kilogram. Hy was ook die wenner van die A-sone.

In die veterane-afdeling het Danie Wilmot koning gekraai met 32 visse, wat 22,35 kilogram geweeg het. Hy het as naaswenner weggestap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article