Die Breedevallei-kinderfonds samel komberse en warm klere in vir dié wat dit hierdie winter broodnodig het.
Eddie Nortier, een van die stigterslede, sê die kinderfonds is op die been gebring om kinders in die vallei te help. Die organisasie is in 2006 gestig. Michael Moore, ’n plaaslike sakeman, is die voorsitter.
“Ek was destyds sewe dae per week betrokke by kinders – skool deur die week, sport Saterdae en Sondagskool. Kinders lê my baie na aan die hart en dit het my gepla dat van hulle saans koud en honger moet gaan slaap,” verduidelik Nortier.
Later het hy ook Nortier Motors begin en ander ondernemings betrek in sy strewe om kinders gedurende die winter warm te hou. Hulle het hoofsaaklik aan drie organisasies skenkings gegee, wat dan aan behoeftiges oorhandig is.
“Ons het die skenkings tussen die ACVV, Kindersorg en die Worcester- ekumeniese gemeenskapsdiens asook ander instansies in skole verdeel,” verduidelik Nortier.
Vanjaar pak die Kinderfonds tesame met Nortier Motors, Wingfield Motors en Worcester Standard hierdie projek weer aan.
“Afsetpunte vir enige skenking van komberse en warm winterklere geskied by die Standard en Nortier Motors. Skenkings kan weeksdae in sake-ure by hierdie punte afgelaai word.”
Wanneer genoegsame artikels ingevorder is, sal dit opverdeel en aan die onderskeie instansies oorhandig word.





