Chris Koopman (34) van Noble Park in Worcester het oudergewoonte op ’n passasierskip geklim waar hy vir vier maande op ’n slag as ’n vermaaklikheidster werk. Maar dié keer het sy wêreld ineengestort toe hy aan boord onbeskryflike pyn gehad het wat hom in die hospitaal laat beland het.

Volgens Christopher Koopman, Chris se pa, het sy seun in Maart in Noord-Amerika op een van Royal Caribbean Adventure of the Seas se passasierskepe geklim en einde April in ’n hospitaal in Mexiko geëindig waar pankreatitis en ’n kwaadaardige sist by hom gediagnoseer is.

Chris is toe na ’n hospitaal in Florida in Noord-Amerika oorgeplaas.

Volgens sy pa is die pankreatitis nie die mediese toestand wat die bekommernis veroorsaak nie, maar eerder die sist wat nie reageer op die medikasie nie en hom geweldig siek maak.

“Ons het gedink dit is ’n eenvoudige behandeling van pankreatitis, maar dit is ’n meer ingewikkelde proses, omdat ’n abses in Chris se maag en kolon gevorm het, wat gedreineer moes word om vloeistof te verwyder,” het die Koopman-familie in ’n Facebook-plasing geskryf.

Die proses om ’n sist te dreineer sluit in om dit met antibiotika te behandel, maar Chris se liggaam het dié medikasie verwerp, wat beteken dat ’n delikate operasie gedoen moet word om die omvang van die situasie te assesseer.

“Chris is in ’n kritieke toestand en hy lei ook aan inwendige bloeding, maar die presiese ligging (van die sist) is onseker. Sy hart is swak, en sy toestand versleg,” luidens die Facebook-plasing.

Die “baie delikate” operasie is verlede Vrydag (2 Junie) op hom uitgevoer om die kwaadaardige sist te ondersoek en vloeistowwe te verwyder.

Die operasie kon egter nie voltooi word nie, en Chris is toe in ’n semi-koma geplaas om erge pyn te voorkom. Die operasie het wel die afgelope Maandag (5 Junie) voortgegaan.

Volgens die familie was dié operasie ’n sukses en Chris sterk goed aan.

“Ons probeer om Chris nie te veel te pla nie. Sommige dae is hy beter, en ander is hy weer baie siek. Nou die dag toe ons met hom praat, het hy soos ’n ou man geklink van die pyn,” het sy pa telefonies aan Standard vertel.

Volgens Christopher is die familie angstig om hul seun te besoek, maar die kostes van so ’n besoek maak dit onmoontlik vir die gesin.

Hulle doen dus ’n beroep om hulp hiermee.

. Enigiemand wat ’n finansiële bydrae wil maak om Chris se bekommerde familie na Florida te stuur, asook om sommige mediese onkostes te dek, kan die Backabuddy-webtuiste besoek by www.backabuddy.co.za/champion/project/teri-stynder-5614443792975365512. Altesaam R20 000 van die nodige teiken van R75 000 is reeds ingesamel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article